Local news

Kaapstad-model kan Pretoria help misdaad keer

Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Opernbare Veiligheid, JP Smith, het Pretoria gemeenskappe saam met DA-burgemeesterskandidaat Cilliers Brink besoek om lesse wat hy geleer het in sy meer as 15 jaar as veiligheidsleier in Kaapstad, te bespreek.

Die DA se burgemeesterskandidaat vir Tshwane, Cilliers Brink, het op 20 November saam met Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid, JP Smith, gemeenskappe in Pretoria besoek om eerstehandse terugvoer oor wetstoepassing, veiligheid en die verval van dienslewering aan te hoor.

Die besoek het Centurion, Pretoria-oos en Eersterust ingesluit, waar Smith verskeie veiligheidsbelanghebbendes en gemeenskapslede ontmoet het.

Die besoek vorm deel van ’n breër poging om te bepaal wat die metro by die Kaapse veiligheidsmodel kan leer.

Brink meen Kaapstad se benadering bewys hoe ’n plaaslike regering se wetstoepassing die gaping kan vul waar nasionale strukture, veral die SAPD, tekort skiet.

By ’n veiligheidsvergadering in Wyk 57, Centurion, het gemeenskappe hul frustrasie uitgespreek dat hulle selde sigbare polisie of metropolisie-wetstoepassing sien.

Volgens inwoners weet niemand meer waar die Tshwane-metropolisie hul opsigself bevind of watter wetstoepassing wel plaasvind nie omdat daar geen optredes na klagtes is nie en die motors nooit gewaar word nie.

Verskeie gemeenskappe het ook gekla dat dienslewering deur die SAPD, veral by stasies en ook met betrekking tot reaksietye en opsporingswerk, vinnig agteruitgaan in Pretoria.

Smith het op hierdie klagtes reageer deur te wys hoe die Kaapse metro moes ingryp toe die SAPD se kapasiteit afgeneem het.

Hy sê Kaapstad het pas meer as 800 nuwe wetstoepassingsbeamptes opgelei, waarvan ’n groot groep binnekort ontplooi word. Hy het egter gewaarsku dat stede landwyd die impak voel van landwye verlies aan polisiebeamptes.

“Wanneer jy ophou om jou kernverantwoordelikhede uit te voer, soos die polisie gedoen het, gaan misdaad styg. Veral gewelddadige misdaad. Die lewensgehalte van almal in alle gemeenskappe word afgetakel wanneer wette nie toegepas word nie,” sê Smith.

Smith verwys ook na die landswye agterstand in forensiese sake, waar hy noem dat 41 000 sake wag vir verwerking.

Hy het bevestig dat die Kaapse metro binnekort weer hof toe gaan om die stad se ondersoekbevoegdhede deur wetstoepassers uit te brei om voltooide hofsake met genoeg bewyse, uitsprake en vonnisse af te dwing in die howe.

Volgens hom kan so ’n deurbraak ’n nasionale presedent skep wat ook stede soos Pretoria kan bevoordeel.

Hy verduidelik dat die Kaapse metro onlangs vyf wetstoepassingsbeamptes per wyk ontplooi het. Hulle rapporteer daagliks aan ’n wykbevelvoerder, wat die stad help om misdaadpatrone akkuraat te monitor en vinnig te reageer.

Smith sê verder boetes verander nie minibustaxibestuurders se gedrag nie. Die enigste effektiewe maatstaf is om voertuie te skut en bestaande verkeers- en stadsverordeninge kreatief toe te pas.

Hy het ook hul metro se onlangse sukses beklemtoon in die verwydering van 2 369 vuurwapens van Kaapstad se buurte se strate.

Volgens hom is die krag van ’n geaktiveerde en toegeruste buurtwag nie te onderskat nie. Kaapstad bestee jaarliks miljoene om die 50 000-lede-sterk buurtwagstelsel met toerusting te ondersteun, insluitend fietse, fluitjies en basiese tegnologie.

“Ons het hierdie kennis en tegnologie aan die metro aangebied, want samewerking is die enigste manier om misdaad te stuit.”

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid in Kaapstad, bespreek in Pretoria-oos hoe Tshwane kan leer uit Kaapstad se veiligheidsmodel.

Smith beklemtoon ook dat informele handelaars regverdig maar streng gereguleer moet word.

Hy sê hul metro se benadering is om die handelaars te ondersteun waar moontlik, maar om goedere in te vorder wanneer verordeninge stelselmatig oortree word. Sulke gereguleerde ondersteuning is volgens hom noodsaaklik vir stedelike herlewing en om permitstelsels geloofwaardig te hou.

Brink het tydens die besoeke versigtig na Smith geluister en gereageer met die volgende: “Jy kan nie reguleer sonder om waar nodig, oortredings te straf nie. Ek was ook onlangs op ’n luistertoer deur die stad om te hoor wat pla gemeenskappe op alle gebiede. Ek het ook na Smith se woorde jare gelede aan my geluister: As jy misdaad wil beheer, moet jy die paaie beheer. Vir dit om afgedwing te word, moet die metropolisie beheer hê oor hul eie beamptes. Die topbevel moet weet waar elke beampte is. En om misbruik te voorkom, moet ’n rekenaarondersteunde stelsel gebruik word.”

Smith verduidelik dat Kaapstad reeds so ’n stelsel gebruik: “Jy kan nie, soos in Kaapstad, duisende beamptes hê wat gewapen rondloop, en nie weet waar hulle is nie. Ons gebruik ’n stelsel wat vir ons wys waar elke beampte is. Jy kan dit soos jou Uber-toep volg. Vir my lyk dit asof die metropolisie nie toegerus is om hul werk te doen nie. Daar is honderde beamptes maar net sowat 250 voertuie.”

In Centurion het Smith ook ’n terrein op Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) besoek waar ’n grondbesetting plaasgevind het.

Hy sê hul metro het ontdek dat onmiddellike optrede noodsaaklik is omdat sulke besettings dikwels deur georganiseerde misdaadgroepe georkestreer word. Hulle posisioneer hulself as huurbase om geld uit mense wat desperaat is vir behuising, onwettig in te vorder.

Brink meen Tshwane moet soos Kaapstad, ook noodakkommodasie gereed hê om wettige optrede teen grondbesettings te ondersteun.

Hy verwys na ’n geval waar privaat grond-eienaars R5-miljoen moes spandeer om ’n grondbesetting in Centurion te keer. Hy sê die metro moet leer by Kaapstad se Safe Spaces-program om vas te stel hoe skuilings wettiglik beskikbaar gemaak kan word vir onwettige inwoners wat ontruim word.

Smith sê Kaapstad se grondbesettings-eenheid het 187 lede en gebruik lugondersoektegnologie, insluitend hommeltuie, om te bewys hoe lank mense werklik op ’n terrein woon. Hy meen dit verhoed dat individue in die hof valslik beweer dat hulle al jare daar woon en nie uitgesit mag word nie.

Hy beskryf hommeltuie as die ware spelbrekers in moderne stedelike veiligheid.

Kaapstad se K9-hond, Virus Foto: Verskaf

Smith het ook die belangrikheid van ’n goed opgeleide K9-eenheid uitgelig. Hy sê die honde speel ’n kritieke rol in die opsporing van dwelms, en dat Kaapstad se eenheid met 30 honde een van die doeltreffendstes in die land is met hul kampioenhond, Virus, en sy hondegeleier as die bobaas snuffelneus en nemesis van dwelmbase.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button