Radiobaas tree uit, los reuse-nalatenskap
Vir Willie Spies beteken sy vertrek as voorsitter van Pretoria FM nie die einde van sy betrokkenheid by die gemeenskap nie. As prokureur by Hurter Spies en as skrywer en redakteur van Pretoria FM se nuwe boek, bly hy steeds ’n bekende stem in die openbare lewe.
Willie Spies, prokureur, kolomskrywer en die uittredende voorsitter van Pretoria FM, het aangekondig dat hy sy rol by die radiostasie beëindig en weer by die Vryheidsfront Plus aangesluit het.
Spies, wat reeds ’n lang geskiedenis met die Vryheidsfront Plus as parlementslid gehad het, wou nie bevestig of hy as kandidaat op plaaslike regeringsvlak gaan staan nie.
Volgens die bepalings van die Onafhanklike Uitsaai-owerheid van Suid-Afrika wat die uitsaaiwêreld reguleer, mag personeel van ’n radiostasie nie aktief in party-politiek betrokke raak nie.
Soos hy dit self stel: “Die lewe loop sirkels, soos Dalene Matthee in Kringe in ’n Bos beskryf. Op ’n manier is ’n sirkel ook vir my besig om te voltooi. My uitklim uit die politiek was ook vir my 15 jaar gelede in baie opsigte traumaties.”
Spies het tussen 2004 en 2009 as parlementslid vir die Vryheidsfront Plus gedien voordat hy hom na sy politieke aftrede op die ontwikkeling van verskeie Afrikaner-instellings toegespits het.
Hy verduidelik dat die afgelope dekade en ’n half vir hom ’n tyd van bouwerk was.
“Vir 15 jaar het ek gewerk om Afrikaner-instellings van die burgerlike samelewing met my beskeie bydrae sterker te help maak. Die instellings is vandag saakmakende rolspelers, waarvan selfs die G20 kennis neem, danksy die leierskap van mense soos Flip Buys, Kallie Kriel en Dirk Hermann. Hulle gaan vorentoe selfs ’n groter rol speel namate verval van die staat die toetrede van die burgerlike samelewing gaan vra.”
Hy voeg by dat dit tyd is dat instellings binne en buite die politiek mekaar moet komplimenteer.
“Die Afrikaners se tyd is 373 jaar na Van Riebeeck in die Kaap geland het, nog lank nie verby nie.”
Sy vertrek en moontlike politieke terugkeer val saam met nog ’n mylpaal: die verskyning van die nuwe boek wat Pretoria FM se geskiedenis vertel.
Nou gaan ons net aan! is saamgestel deur Spies as redakteur en bevat hoofstukke deur verskeie individue wat oor die jare heen by die radiostasie betrokke was.
Die werk word deur Naledi uitgegee en het in die derde week van November landswyd op rakke verskyn.
Dit is ’n versameling van herinneringe, agter-die-skerms verhale en historiese mylpale wat Pretoria FM se reis van strydradio tot landswye uitsaaier op verskeie platforms dokumenteer.
Spies verduidelik dat talle hande hieraan gewerk het, onder andere die voormalige voorsitter en teoloog, prof. Adriaan Pont, wat ’n kritieke rol gespeel het om te verseker dat belangrike historiese gebeurtenisse noukeurig opgeteken is.
Die boek dek onder meer die pionierswerk van ds. Mossie van den Berg, die stigtersfiguur wat deur baie as die vader van Pretoria FM beskou word. Dit skets ook die vroeë tegniese uitdagings, die uitbreiding van herleistasies en die lang, dikwels gespanne regstryd wat gevoer is om volhoubare uitsaailisensies te bekom.
Spies se eie pad met Pretoria FM het begin met ’n oproep van oudregter Johan Smit, wat hom genader het as die regsman wat kontak met die Solidariteit Beweging kon fasiliteer.

In dié 14 jaar onder sy leiding het Pretoria FM merkwaardige groei beleef. In 2010 is die eerste permanente lisensie aan die stasie toegeken, wat ’n einde gebring het aan dekades van onsekerheid. Die bekroonde Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings het in 2019 die lig gesien nadat politieke inmenging die Ghoema-toekennings ontwrig het. Die eerste Aitsas is deur 8 000 mense bygewoon en het sedertdien ’n jaarlikse instelling geword.
Toe die Covid 19-pandemie toeslaan, het die radiostasie vinnig aangepas en sy sosiale media-teenwoordigheid uitgebou. Die YouTube-nuusdiens wat daagliks uitgesaai word, bereik steeds tienduisende kykers.
Spies glo dat hy sy doel bereik het: om ’n professionele radiostasie te help bou wat sy personeel van volhoubare inkomste, mediese voordele en pensioenversekering kan voorsien.
Hy word as voorsitter opgevolg deur Charl Oberholzer, medestigter van Handelshuis, District Holdings en die leefstylhandelsmerk Republk, wat in ongeveer 200 winkels regoor Suid-Afrika beskikbaar is.
Oberholzer bring ook ’n meestersgraad in kommunikasiebestuur, breë sake-ervaring en opleiding in neurolinguistiese programmering na die rol, asook betrokkenheid by die eerste entrepreneurswerkwinkel op Afrika-bodem in samewerking met die MIT-universiteit.

– Nou hou ons net aan! Van strydradio tot ’n nasionale media-instelling kan nou bestel word deur ’n e-pos te stuur aan jennifer@pretoriafm.co.za. Dit kan ook by die ontvangs van Pretoria FM se kantore in Loftus Park, Pretoria gekoop word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
