Uitspraak oor privaat brandweerdienste laat spanning styg
Die Hooggeregshof het uitspraak voorbehou in die Tshwane-metro se poging om privaat brandweerdienste onwettig te verklaar. AfriForum, SBBV en politieke partye waarsku dat die verbod gemeenskappe in gevaar stel en dat samewerking eerder as konflik nodig is.
Die debat oor die wettigheid van privaat brandweerdienste in Pretoria is opnuut in die kollig geplaas in die Hooggeregshof, waar uitspraak in ’n saak wat tussen die metro en die Sinoville Brandbestrydingsvereniging (SBBV) aanhangig is, voorbehou is.
Hierdie hofsaak het ontstaan nadat die metro die SBBV en ander privaat brandweerdienste as onwettig verklaar het.
AfriForum het sy volle steun aan die SBBV gegee en het teen die poging van die metro om privaat brandweerdienste te verbied, standpunt ingeneem.
Volgens Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, is dit “onverantwoordelik om privaat brandweerdienste onwettig te verklaar, veral omdat dié dienste broodnodige hulp in tye van nood verleen”.
Cooks sê dat “die Tshwane-metro in plaas daarvan om die wettigheid van hierdie dienste in ’n uitgerekte hofgeding te beveg, hierdie addisionele kapasiteit in die belang van die inwoners behoort te verwelkom”.
SBBV-stigterslid JP Botha verduidelik dat die vereniging ontstaan het as gevolg van owerhede se onvermoë om altyd op die verwagte vlak van diens te reageer.
“SBBV het al menige voorvalle suksesvol hanteer en vul ’n kritieke leemte in die noorde van Pretoria,” glo Botha.
Hy wys daarop dat die vereniging geheel en al uit vrywilligers bestaan, wat as brandbestryders opgelei is en hul tyd en kundigheid aanbied om die gemeenskap te beskerm.
Die metro se regspan argumenteer dat privaat brandweerdienste onwettig is en nie in ooreenstemming met die Wet op Brandbestryding is nie.
Regter J. Davis het tydens die hofverrigtinge benadruk dat die saak van uiterste belang is en dat die uitspraak deurdag moet wees.
Politieke leiers, insluitend Grandi Theunissen, raadslid en koukusleier vir die VF Plus, het sterk standpunt ingeneem teen die metro se aksie.
Theunissen sê: “Die metro is besig om die ernstige finansiële realiteite van die brandweerafdeling te ignoreer. Die rol wat private dienste as ’n komplimentêre mag kan speel, word geminag, en dit sal uiteindelik die gemeenskap in gevaar stel.”
Hy wys verder daarop dat “die metro bewustelik besluit het om konflik uit te lok ten koste van die inwoners” en het die munisipaliteit aangespreek oor die vermorsing van belastinggeld in vrugtelose hofgevegte.
Volgens die VF Plus en ander ondersteuners van privaat brandweerdienste is daar geen wet wat privaat brandweerdienste verbied nie.
Theunissen het sterk kritiek gelewer op die metro se bewering dat privaat brandweerdienste ‘verkeer blokkeer’ en sê dat ‘tydelike padsluitings lewens en noodpersoneel beskerm’.
DA-koukusleier Cilliers Brink het op sy beurt gepleit vir ’n goed gereguleerde raamwerk vir privaat brandbestryding.
“Die hulpbronne van munisipaliteite is dikwels ontoereikend om vinnig genoeg te reageer, en daarom is daar duidelik ruimte vir private brandbestryding, wat nie net in noodsituasies kan help nie, maar ook die gemeenskap kan beskerm,” glo Brink.
Hy het verder voorgestel dat private en munisipale sektore moet saamwerk, eerder as om teen mekaar te werk.
Brink waarsku ook dat soortgelyke situasies soos vroeër vanjaar in Klerksoord in Pretoria-Noord weer kan ontstaan toe besighede en wonings afgebrand het terwyl privaat brandweerondernemings nie toegelaat is om ’n rol te speel nie.
– Kliek hier om na Cilliers Brink se argumente vir privaat brandweerdienste te luister: https://www.facebook.com/reel/1522328692343188
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
