Local news

‘Gangster’ se kos lei tot reuse-sonneblom

’n Polisieman met ’n liefde vir tuinmaak het een van die Moot se hoogste sonneblomme gekweek met saadjies uit die kosbak van sy ondeunde African Grey. Sy gesin, eggenoot Nadia en dogtertjie Amore, help ywerig in die tuin. Die reuseplant het al hoër as 5m gegroei.

Peet Joubert, ’n bekende polisieman in die Moot, is die soort buurman wat orals in die buurt met ’n glimlag en ’n handdruk gegroet word.

“Ek was nog altyd lief vir tuinmaak. Dit help met die stres van my werk,” sê hy.

Hy het nooit gedink dat hy eendag met waarskynlik die Moot se hoogste sonneblomplant sou spog nie.

Die verrassingselement? Hy het ’n bietjie hulp uit ’n onwaarskynlike oord ontvang: van sy onnutsige African Grey-papegaai met die gepaste bynaam Gangster, maar ‘sy regte naam is eintlik Grey’.

Joubert lag as hy vertel hoe dit alles begin het. “Ek loer mos gereeld hier in die Moot by ’n troeteldierwinkel in om saad vir hom te koop,” sê hy. “En die saad van die reuseplant was in so ’n pakkie saad ingesluit.”

Peet Joubert en sy ondeunde African Grey papegaai, Grey alias Gangster, wie se kos die begin van die reuse-sonneblom avontuur ingelui het. Foto: Verskaf

Sy African Grey, verduidelik Peet, het die gewoonte om so nou en dan van die kosbare sonneblomsaad in sy bakkie rond te skop.

“Hy kom byt jou sommer ook as jy nie vinnig genoeg sy deur oopmaak nie,” grap Joubert. Op ’n dag het hy van Grey se saadjies vir die pret daarvan in potplantgrond buite die huis geplant.

“Ons het ’n handvol van die saad geneem en besluit om te kyk of dit sal groei,” vertel hy. Hy het dit in die grond ingewerk saam met selfgemaakte kompos, volgens ’n metode wat hy by sy ouers op die platteland geleer het.

Joubert is gebore en getoë op ’n plaas, en sy liefde vir grond, groente en blomme is diep gewortel.

“Dis nogal ’n inspanning om ’n stadsboer te wees,” sê hy, “maar ek probeer die plaaslewe hier in die Moot te laat voortleef.”

Die sonneblom wat uit daardie potplantgrond gekom het, het egter ’n wil van sy eie gehad.

Dit het aan die kant van die huis opgekom, ’n plek waar sonlig eintlik skaars is.

“Ek glo hy het letterlik son gaan soek,” sê Joubert.

Die plant het dit wel gevind en aanhou groei en groei na die lig toe totdat hy uiteindelik meer as 5m hoog gestaan het.

“Ek het al baie sonneblomplante gesien, maar hierdie een het sy eie wil gehad,” lag hy.

Die Joubert-gesin van die Moot, Peet, Amore (voor) en Nadia trots by hul reuse-sonneblom wat al hoër as 5m is. Foto: Verskaf

Sy dogtertjie, Amore, ’n ywerige tuinier wat in Laerskool Totius is, het die groei van die sonneblomplant met geesdrif dopgehou.

Waar baie sewejariges op hul bank sou sit met ’n selfoon, vind mens haar tussen die tamatieplante en Afrikanerplantjies wat sy self geplant het.

“Sy neem sommer water met ’n gieter na die blomme toe en praat met hulle,” vertel Joubert trots.

Sy het hierdie jaar haar eie oes klein tamaties gehad, en dis duidelik dat die liefde vir tuinmaak deel van die gesin se DNS is.

Joubert glo die sonneblomplant se sukses asook ander groente in hul tuin lê in eenvoudige, maar volhardende sorg.

Die plant het nie spesiale kos gekry nie, net gewone water en baie liefde. Sy komposmetodes met die plant kon dalk bydra tot die grootte, voel Joubert.

“Ek maak my eie kompos,” verduidelik hy en deel ’n paar Joubert-tuinmaakgeheime. “Moet nooit blare weggooi nie. Voeg dit by jou komposmengsel, maar los die bossies en die hond se sponsdorings uit. Hou dit in ’n goingsak of dik vullissak vir ’n paar maande. Die kompos word dan omgeroer en ingespit in die beddings. Dan wag jy dat die erdwurms naderstap. Dis altyd ’n teken die grond is gesond.”

Hy glo ook vas in die voedingskrag van piesangskille vir plante. “Moet dit nooit weggooi nie,” sê hy. “Knip dit in stukkies en spit dit onder by plantwortels in, veral by roosbome.”

Aartappelskille werk volgens hom net so goed. Hierdie praktyke lok natuurlik ook baie erdwurms, volgens Joubert.

Amore leer elke dag meer oor tuinmaak by haar ouers. Haar ma, Nadia, spring ook gereeld in die tuin in.

Hy het sy dogter al selfs geleer hoe om ’n snoeiskêr te gebruik, en sy help al heel gemaklik om blomme en groenteplante netjies en gesond te hou.

Die gesin se Duitse herdershond, Bruno, hou gewoonlik wag terwyl hulle buite werk. “Hy kyk maar net dat almal op hulle plek bly,” lag Joubert.

Selfs Grey, die papegaai, hou oggend-inspeksie vanuit sy hok oor die plant en soms ook van binne die huis af waar hy graag rondloop.

“Hy dink hierdie is sy huis, dis klaar,” sê Joubert laggend.

Joubert is wel iemand wat hou van beplanning en voorbereiding, en meen dis een van die redes waarom die reuse-sonneblomplant so goed gevaar het.

“Ons het alles mooi beplan. Saadjies geplant, spaarsamig met water gewerk en eie kompos gebruik.”

Hy verduidelik dat sonneblomme eintlik direkte sonlig soek om te kan blom, en dat hulle selfs stof afskei wat ander plante goed laat groei. “Dis ’n baie dankbare plant. Hy gee vir jou terug wat jy insit.”

Wanneer mens hom vra of hy weet wat die wêreldrekord vir die hoogste sonneblom is, het Joubert reeds sy huiswerk gedoen.

“Dis 10m. ’n Immigrant in Amerika het dit gekweek,” vertel hy. “So ons het nog ruimte op ons plant se net effe meer as 5m om te groei,” voeg hy skertsend by. “Ek sê altyd: begin net. Die natuur wys vir jou die pad.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button