Metro en Kleinfontein nader aan billike oplossing
Die VF Plus het 'n konstruktiewe vergadering tussen die adjunk-burgemeester Eugene Modise en die Kleinfontein-leierskap gereël, met die doel om die eiendomsbelastingkwessie buite die hof op te los. Gesprekke oor die saak sal met alle belanghebbendes voortgesit word, wat hoop vir 'n billike, volhoubare oplossing vir die nedersetting.
Die Vryheidsfront Plus het onlangs ’n konstruktiewe vergadering tussen die adjunk-burgemeester van Tshwane, Eugene Modise, en die amptelike leierskap van die Kleinfontein-gemeenskap gereël.
Die gesprek, wat op 22 November gehou is, het in ’n atmosfeer van samewerking en optimisme plaasgevind.
Die Kleinfontein Aandeleblok (Edms.) Bpk. is deur die amptelike voorsitter, Rian Genis, en die ondervoorsitter, Dannie de Beer, verteenwoordig. Beide het met Modise saamgestem dat ’n sinvolle en praktiese oplossing gevind moet word vir die onregverdig hoë eiendomsbelasting wat deur die metro op die nedersetting gehef is.
Alhoewel die belasting hewig is, word die meeste dienste in Kleinfontein self gelewer, wat die vraag na billikheid in die belastingstruktuur verhoog.
In die vergadering is daar ooreengekom dat die huidige benadering nie net vir Kleinfontein voordelig sal wees nie, maar ook as model kan dien vir die ander 16 sogenaamde onwettige nedersettings in die metro.
Volgens Modise, is dit duidelik dat die metro die saak ernstig moet benader.
Die VF Plus het die deurbraak verwelkom en gesê dit is ’n stap in die regte rigting.
“Die party bly verbind tot die fasilitering van beginselvaste en statutêr-nakomende oplossings wat die waardigheid van gemeenskappe herstel en terselfdertyd die munisipale integriteit beskerm,” het die party in ’n verklaring na die vergadering gesê.
Die vergadering het die pad oopgemaak vir ’n hernieude dialoog tussen die regmatig-verkose leierskap van Kleinfontein en die metro se amptenare.
Die gesprekke sal nie net die Kleinfontein-kwessie hanteer nie, maar ook die groter probleem van onwettige nedersettings in Pretoria aanraak.
Die party het in September vanjaar reeds ’n voorstel aan die metro gemaak, wat ’n praktiese pad vorentoe voorstel wat die saak buite die hof kan besleg.
Volgens Grandi Theunissen, VF Plus-leier in die stadsraad, is daar op die vergadering uitgelig dat ’n vorige onlangse afvaardiging nie die wettige mandaat van die gemeenskap gehad het nie.
Theunissen glo die resultate van die vergadering was duidelik positief en dui op ’n samewerkende proses wat alle belanghebbendes insluit, van die stad se regspan tot die regmatig-verkose verteenwoordigers van Kleinfontein.
Volgens Genis, is die gemeenskap optimisties dat ’n vinnige en billike oplossing gevind sal word.
“Ons is bly dat daar erkenning is vir ons reg om ’n ingrypende oplossing te soek. Ons hoop dat die gesprekke vlot en doeltreffend sal wees,” verduidelik Genis.
Beide die VF Plus en die Kleinfontein-leierskap het beklemtoon dat ’n hofsaak nie net tydrowend sal wees nie, maar ook openbare fondse onnodig sal opneem.
Daarom is die fokus, volgens Theunissen, op ’n onderhandelde oplossing wat die stabiliteit van Kleinfontein, sowel as ander nedersettings, sal verseker.
Volgens De Beer, is die spontane uitreiking van die onderburgemeester via die Vryheidsfront Plus na die verkose amptelike bestuur van die Kleinfontein-gemeenskap as baie positief ervaar.
“In die blitsbesoek was daar eenstemmigheid dat, indien moontlik, ’n oplossing eerder buite die hof gevind kan word. Modise het ook bevestig dat hy ’n skikkingsvoorstel van Kleinfontein onder oë gehad het. Hy het die saak met erns beskou en dit is bemoedigend dat hy die verkose verteenwoordigers van Kleinfontein, die regspanne asook die Vryheidsfront Plus so gou as moontlik om die tafel wil sien. Daar was ook die versugting uitgespreek dat gesprek eerder binne dae eerder as weke sal plaasvind,” sê hy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel