Kersvader versprei vreugde by plaaslike skole
Die polisie en privaat vennote het die jaar feestelik afgesluit met ’n spesiale besoek van Kersvader. Kinders het geskenksakkies en ’n boodskap van hoop, veiligheid en selfvertroue ontvang.
SAPD Villieria se Misdaadvoorkoming- en Kommunikasie-eenheid het saam met SRU Strategic Response Rescue Unit en Anubis Security die jaar op ’n feestelike noot afgesluit.
Die span het Laerskool Lindopark, Laerskool Derdepoort, Laerskool Totiusdal en Moot Maats besoek, waar Kersvader die jongspan verras het met ’n vrolike kuier en geskenksakkies.
Volgens die woordvoerder van die eenheid, adjudant-offisier Marinda Austin, het die besoek ’n besondere atmosfeer by die skole geskep.
“Die kinders se opgewondenheid was aansteeklik. Dit is vir ons belangrik om die jaar positief af te sluit en vir hulle ’n oomblik van vreugde te gee,” sê Austin.
Kersvader het lekkers uitgedeel en die kinders met ’n humoristiese en bemoedigende boodskap gemotiveer om die nuwe jaar en Kerstydperk positief aan te pak.
Austin verduidelik: “Ons wou hulle aanmoedig om hard in die skooljaar te werk, in hulself te glo en elke dag hul beste te doen. Veiligheid en sorg vir mekaar bly vir ons ’n prioriteit, veral in die feestyd en ons het ook ’n fokus daarop geplaas.”
Sy glo sulke besoeke versterk die band tussen die polisiediens en die gemeenskap.
“Ons waardeer die gemeenskap se volgehoue ondersteuning deur die jaar. Dit maak ons werk moontlik.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
