Plaaslike skoolhoof aangewys as beste in die land
Pretoria-Noord se gemeenskap vier saam met Laerskool Danie Malan ’n sonderlinge prestasie nadat skoolhoof Hettie Smith as die land se mees innoverende hoof aangewys is.
In ’n jaar waarin onderwys en skoolhoofde in Pretoria telkens weer onder die vergrootglas was, is dit goeie nuus dat ’n skoolhoof van Pretoria-Noord die hoogste eer in die land vir skoolhoofde ontvang het.
Hettie Smith, skoolhoof van Laerskool Danie Malan in Pretoria-Noord, is as die Mees Innoverende Hoof van 2025 aangewys op 27 November deur die Skoleondersteuningsentrum (SOS).
Die sentrum se Onnieveerder-kompetisie, wat jaarliks goeie en gesonde skolebestuur landwyd in die Suid-Afrikaanse onderwys vier, is bekend daarvoor dat dit prestasie en ware impak meet.
By die prysuitdeling het Smith haar toekenning met groot nederigheid ontvang.
“Dit is vir my ’n groot voorreg en ’n diep nederigheid om die Onnieveerder Hoof-toekenning te ontvang. Ek aanvaar dit nie as ’n persoonlike eer alleen nie, maar as ’n weerspieëling van die ongelooflike span mense saam met wie ek elke dag mag werk.”
Volgens Smith is die kern van haar skoolhooffilosofie eenvoudig. Sy stel dit só: “By elke skool is daar een waarheid wat nooit verander nie: onderwysers is die hart van onderrig, die draers van hoop, en die argitekte van die toekoms. Geen innovasie, geen projek en geen stelsel kan slaag sonder onderwysers wat bemagtig, gerespekteer en professioneel ondersteun word nie. Wanneer ’n onderwyser floreer, floreer ’n hele skool en uiteindelik floreer kinders.”
Hierdie benadering is duidelik nie net vir die vriendelike en bedagsame leerkrag mooi woorde nie, maar die grondslag van die manier waarop sy haar span lei.
“Daarom is dit vir my belangrik om opvoeders toegang te gee tot hulpbronne, opleidingsgeleenthede en ’n veilige, ondersteunende omgewing waar innovasie nie net toegelaat word nie, maar aangemoedig word. Hierdie toekenning bevestig vir my dat professionele ontwikkeling nie ’n bonus is nie maar ’n noodsaaklikheid. Wanneer ons in ons onderwysers belê, belê ons direk in ons kinders, ons gemeenskap en die toekoms van Suid-Afrika.”
Sy het ook die toekenningsgeleentheid gebruik om haar personeel direk te bedank.
“Aan my personeel wil ek sê: Dankie dat julle nuuskierig bly, dat julle bereid is om nuwe maniere te probeer, dat julle nooit ophou leer nie. Hierdie toekenning behoort net soveel aan julle as aan my.”
Die SOS, wat die kompetisie aanbied, speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van onderwysers en skoolbestuur regoor Suid-Afrika.
Smith het ook waarderende woorde aan die sentrum gerig: “Dankie vir julle rol om die professionele landskap van onderwys positief te vorm. Ek glo vas dat ware innovasie nie net in tegnologie lê nie, maar in mense soos in onderwysers wat hul eie denke vernuwe, wat waag om anders te dink, en wat elke dag met integriteit en passie voor die klas instap. Mag ons bly bou aan skole waar onderwysers waardeer word, waar hul groei beskerm word, en waar hul stemme saak maak. En mag ons almal aanhou innoveer, saam leer en die pad vorentoe verlig vir die volgende generasie.”
SOS-woordvoerder Valentyn van der Merwe sê: “Vanjaar se Onnieveerder-toekennings was ’n inspirasie! ’n Viering van mense wat met nuwe idees en groot harte ’n verskil maak in klaskamers regoor die land. Met 67 onderwysers en 63 skoolhoofde wat benoem is, vier ons ’n onderwysgemeenskap vol passie en kreatiwiteit. Julle maak ons trots!”
Van der Merwe het Lalindei Botha, wenner in die Onderwyserskategorie vir die tweede keer, en verbonde aan Laer Meisieskool La Rochelle in Stellenbosch, ook gelukgewens.
Hy verduidelik die Onnieveerder-kompetisie is alombekend vir sy fokus op innovasie in die klas, en dit bied erkenning aan onderwysers en skoolhoofde wat vars energie bring, prestasie verbeter en leerders inspireer om anders te dink.
Die beoordelingskriteria sluit in digitale bestuur van leer en die gebruik van leerdata, diverse onderrigmetodes, die deel van beste praktyke, asook die meting van impak en doelwitstelling.
Smith se kollegas by Laerskool Danie Malan is trots op haar.
Jaycee Smit, Departementshoof van die Grondslagfase, sê: “Die skool is ongelooflik trots op ons vroue-hoof, wie se toewyding aan die welstand van haar leerders en personeel haar onlangs die welverdiende toekenning besorg het. Sy is ’n ware omgee-hoof wat nie net elke leerder as ’n individu sien nie, maar ook hul globale ontwikkeling met deernis en versorging bevorder. Haar leierskap is ’n inspirasie vir almal rondom haar.”
Adjunkhoof Lilani Pieterse stem volmondig saam. “Ons Juffrou Hettie is definitief die celebrity op die stoepe. Elke Danie Malanner se ogies blink as hulle haar iewers gewaar en sy sê nooit nee vir drukkies uitdeel nie. By Danie Malan is elke onderwyser ’n lewenslange leerder en sy is ’n puik voorbeeld. Ons kry die geleentheid om verskeie uitstaande opleidings by te woon en woon ook gereeld motiveringsessies by aangesien dit belangrik in die onderwys is om jou koppie vol te hou en jou potlood skerp.”
Die kompetisie het vanjaar sterk deelnemers gelok.
Onder die finaliste tel gerespekteerde skoolhoofde soos Jaco Lessing van Leeuwenhof Akademie in Germiston, Benton Nortman van Laerskool Swellendam, Willem Jacobs van Laerskool Impala in Kempton Park, Elsabe Conradie van Hoër Meisieskool La Rochelle in Stellenbosch, Jacques Horne van Laerskool Hendrik Louw in Kaapstad, Dalene Olivier van Laerskool La Rochelle, LGH Welthagen van Trio Primêr in Kroonstad, en Gerben van Rensburg van Laerskool Malelane in die Laeveld.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
