Local news

Susanna en Grietjie wy Gelofteweek in

Twee kanonne, Susanna en Grietjie, het in die tweede week van Desember aan Gelofteweek beslag gegee.

Die week lange gelofteweekvoorlesings en -afleggings by die Voortrekkermonument het in die tweede week van Desember opnuut gewys hoe geskiedenis nie net herdenk kan word nie, maar ook uitgeleef kan word.

In die Lewende Laer het besoekers saans saamgetrek en die Gelofte is, soos 187 jaar gelede, hardop afgelê.

Een van die hoogtepunte was die aandgodsdiens op 12 Desember wat deur Karin Marx, ’n afstammeling van Piet Retief, gelei is.

Lanterns is simbolies aangesteek deur James Kemp van Pretoria FM, Sue-nè Pieterse van Hoërskool Oos-Moot en Louis Engelbrecht van die Krugergenootskap.

Marx het in haar boodskap daarop gewys dat daar veel lesse uit die verlede te lere is.

“Ons voorouers het vrees en lyding geken maar ook hoop en het geweet in enige wagtyd kom God om jou te vorm en te genees vir wat vir jou voorlê,” glo Marx.

Vir dié wat die Gelofteweek se byeenkomste bygewoon het, was die aande meer as ’n herdenking en ’n aanloop tot 16 Desember se Geloftedagvieringe. Die afvuur van die kannone was ook ’n belewenis en sal ook diens doen op 16 Desember.

Kanon Grietjie, die vierponder wat ’n sentrale rol in die Bloedrivier-slag speel, se splinternuwe replika hou vanjaar weer die geskiedenis lewendig.

Marika, Karin en Gerhard Marx Foto: Elize Parker

Op 9 Desember het Sarel Roets, afstammeling van Sarel Cilliers, op die kanon se replika gestaan en die Gelofte van 1838 herdenk.

Dit is die sewende werkende replika van die oorspronklike kanon. Die replika is met uiterste sorg deur die ZAR Kanonniersvereniging gebou.

Kanon Susanna is ook bulderend ingespan.

Nico Hattingh het die skoot op 13 Desember afgevuur en die geskiedenis van dié 19de-eeuse Britse skeepskanon aan toehoorders vertel: van haar toevallige ontdekking by die Cape Town High School gedurende opknappingswerk en haar reis na haar nuwe tuiste by die Voortrekkermonument.

Maliza, Leyla en Ian Jacobs met Ulrich Jacobs (voor). Foto: Elize Parker

Die fokus skuif nou na Geloftedag self. Die hekke van die Voortrekkermonument open reeds om 05:00, met samesang wat om 07:00 begin.

In die amfiteater volg ’n gewyde erediens waar die Gelofte weer afgelê word. Die Gelofte-lied van Johan Vorster en Christof word deur Jan Jan Jan gesing.

Presies om 12:00 sal die son, soos elke jaar, deur die opening in die dak skyn en op die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” op die Senotaaf val, ’n oomblik wat vir baie Geloftedagbesoekers die hoogtepunt van die dag is.

Verlede jaar het meer as 30 000 mense Geloftedag by die Voortrekkermonument bygewoon. Vanjaar word selfs meer besoekers verwag.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button