Hoofseun wil 2 500km vir kinderkanker trap
Vanjaar se hoofseun van Afrikaanse Hoër Seunskool, Andru van Zyl, pak vanaf 16 Desember ’n 35-dae fietsrit van Polokwane tot Kaapstad aan om fondse vir ’n kinderkankerorganisasie in te samel.
Vir Afrikaans Hoër Seunskool se hoofseun van 2025, Andru van Zyl, is hoop nie net iets wat mens voel nie, maar wel ’n gevoel wat mens ’n plan laat maak.
Sy leierskap het leerders en onderwysers vanjaar geïnspireer en nou pak hy ’n buitengewone uitdaging vanaf 16 Desember aan: ’n 35-dae fietsrit van Polokwane tot Kaapstad, meer as 2 500km, om fondse in te samel vir kinders wat teen kanker veg.
Van Zyl, ’n koshuisinwoner al vir jare, is bekend vir sy energie en stamina, en sy vermoë om balans te vind tussen sport en akademie.
Hy speel rugby en krieket, en presteer terselfdertyd in sy studies. Hy het reeds by verskeie universiteite vir mediese studies keuring gekry.
Biologie is sy groot liefde, en hy droom daarvan om eendag ’n dokter te word, ’n roeping wat ook in sy familie ’n tradisie is. Sy pa, dr. Smuts van Zyl, is ’n uroloog in Polokwane, en Andru beskou hom as een van sy grootste rolmodelle.
“Ek en my pa ry al jare saam fiets. Dis ons ding,” vertel hy.
Dit is nie net liefde vir avontuur en oefening wat hom op die pad Kaap toe lang ure in die saal laat sit nie. Sy motivering is veel dieper.
Vroeër vanjaar is ’n leerder aan die skool met kanker gediagnoseer.
“Ons het almal so baie hartseer en deernis vir hom,” sê Van Zyl. “Dit het my erg aangegryp. Jy voel soms magteloos wanneer mense wat jy ken, of hul families, met kanker worstel. Ek het besef ek wil nie net jammer voel nie. Ek wil iets doen.”
Die idee vir die fietsprojek het juis uit daardie wens ontstaan: om ’n tasbare verskil te maak.
Deur in vennootskap met CHOC Childhood Cancer Foundation South Africa te ry, wil hy geld insamel vir hierdie organisasie sonder winsbejag, en ook hoop bring.
CHOC verrig uitstaande werk in die ondersteuning van kinders met kanker en hul families, van emosionele en sielkundige bystand en hulp tot verblyf naby hospitale en opvoedingsprogramme. Hulle is afhanklik van donasies, en sy poging word deur hulle met waardering begroet.
In Suid-Afrika is kinderkanker ’n stille krisis.
Kundiges skat dat sowat 1 000 kinders jaarliks gediagnoseer word, maar die werklike syfer kan baie hoër wees.
Slegs ongeveer die helfte ontvang ’n behoorlike diagnose, grootliks omdat simptome maklik verwar word met algemene kinderkwale en omdat toegang tot spesialisbehandeling ongelyk versprei is.
Die vyfjaar-oorlewingsyfer vir kinders wat wél behandeling kry, is ongeveer 55–60%, ’n skerp kontras met hoë-inkomstelande.
Baie kinders bereik nooit ’n onkologie-eenheid nie, en sommige word verkeerd gediagnoseer of selfs nooit gediagnoseer nie.
Gebrekkige infrastruktuur, ontoereikende verwysingskanale en min bewustheid van waarskuwingstekens maak die pad na herstel uiters moeilik.
Dit is presies hierdie werklikhede wat Van Zyl se projek in die kollig wil plaas.
Hy het lank voorberei vir die rit, wat hom oor bergpaaie en verskeie weerstoestande sal neem.
“Ek weet dit gaan nie maklik wees nie,” erken hy. “Padwerke kan ons ophou, die weer kan draai, en party dae gaan veeleisend wees. Maar ek het ’n goeie ondersteuningspan, en baie fietsryers van plaaslike klubs sowel as individuele fietsryers, het al belowe om gedeeltes saam met my te ry.”
Die rit sal uiteindelik op 22 Januarie by die V&A Waterfront in Kaapstad eindig, tensy die wind of reën hom ’n bietjie vertraag.
Hoewel die logistiek deeglik beplan is, gaan hy steeds staatmaak op mense langs die pad vir raad, ondersteuning en dalk ‘’n bietjie vars water’.
“Dis deel van die avontuur,” lag hy. “Dis hoe gemeenskappe ook leer saamstaan.”
Donasies kan aan CHOC gemaak word, en skenkers kan ook die skareskenkingsplatform GivenGain gebruik om by te dra. Belangrik vir besighede en individue is dat 18A-sertifikate vir belastingdoeleindes beskikbaar is. Alle fondse ingesamel gaan direk na CHOC, waar dit vir behandeling, ondersteuning en navorsing aangewend word.
Hy erken dat die projek baie vir hom beteken. Hy hoop dat sy poging ander sal inspireer om ook iets te doen, al is dit net op kleiner skaal.
“Ek glo elkeen kan iets vir iemand beteken. Ek ry vir elke kind wat vandag in ’n hospitaalbed met kinderkanker lê. En ek ry vir hul ouers wat elke dag moed moet hou.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
