Kinderhuise oorleef uitdagings, hoopvol vir 2026
Die Jakaranda en Louis Botha Kinderhuise vier ’n ware genadejaar. Met nuwe projekte, groeiende gemeenskapsteun en ’n herdenkingsjaar vir die Liggiefees, kyk die bestuur en inwoners hoopvol na 2026.
Ten spyte van beduidende finansiële en operasionele uitdagings, beskryf Jakaranda en Louis Botha Kinderhuise in die Moot vanjaar as ’n periode gekenmerk deur volgehoue ondersteuning uit die breër gemeenskap.
“Wanneer ek terugkyk na die afgelope jaar, sien ek duidelik hoe genade ons deurgedra het,” sê die hoof uitvoerende beampte, Charlene Grobler.
“Dit was ’n jaar van moeilike werklikhede, maar ook ’n jaar van uitkoms op die presiese oomblik wanneer dit die nodigste was. Ons kan die gemeenskap net weer en weer bedank.”
Met die staatsubsidie wat nou slegs 25% van die instellings se totale uitgawes dek, het die jaar begin met onsekerheid oor hoe basiese behoeftes en groeigeleenthede vir die 300 kinders in hul sorg volhoubaar befonds gaan word.
“Ons het regtig gevoel hoe die druk opstapel,” verduidelik Grobler. “Maar elke keer wanneer ons gewonder het hoe ons gaan aanhou, was daar iemand in die gemeenskap wat die gaping kom vul het.”
Een van die grootste projekte by Jakaranda Kinderhuis was die opening van die Be-Atitudes Boutique, ’n stylvolle ruimte waar skoolverlaters vir matriekafskeid klere, skoene, juwele en bybehore kan kies. Die items is volledig uit donasies saamgestel.
Volgens Grobler het die projek ’n groter impak as bloot ’n mooi rok of ’n netjiese pak. “Die boetiek gee ons kinders ’n gevoel van waardigheid. Dit vertel vir hulle dat hulle belangrik genoeg is om mooi te voel op hul groot dag.” Die boetiek help ook minderbevoorregte kinders in die omliggende gemeenskap.
Nog ’n belangrike mylpaal vir die jaar was die opening van die Educational Centre vir graad 1 tot 3 by Jakaranda Kinderhuis.
Die sentrum bied huiswerkhulp aan klein klasgroepe, tutors, ’n nuwe biblioteek en selfs kostuums vir spesiale karakterdae by skole.
“Ons wil nie hê ons kinders moet net deur die skooljaar kom nie,” sê y. “Ons wil hê hulle moet uitblink. Hierdie sentrum help om die akademiese agterstand wat baie van hulle het, aansienlik te verlig.”
Daar word tans verder gewerk aan ’n groentetuin, asook ’n ontspanningsruimte vir skoolverlaters, die sogenaamde Upper Room.
Die ruimte word geskep as ’n veilige omgewing waar jong volwassenes kan sosialiseer, ontspan en ondersteuning kry.
“Ons kinders het strukture nodig wat hulle help om die uitdagings van jong volwassenheid te navigeer,” voeg sy by.
By Louis Botha Kinderhuis is die speelterrein en ’n buitelug-gimnasium met behulp van verskeie borge voltooi.
’n Verdere belangrike ontwikkeling was die opening van Huis 4 as ’n plek van veiligheid vir kinders wat in noodgevalle uit hul huisomstandighede verwyder moes word en steeds hofuitslae afwag.
“Die behoefte aan plekke van veiligheid in die gemeenskap groei elke maand,” sê Grobler. “Ons moes eenvoudig die kapasiteit uitbrei.”
Omdat die staatsubsidie nie voldoende is om die werking van die twee huise te onderhou nie, is daar in vanjaar intensief op fondswerwing gefokus.
Die jaarlikse gholfdag het groot korporatiewe deelname gelok en as ’n finansiële hoogtepunt uitgeblink. Die gewilde Finders Keepers-thriftwinkel by Louis Botha Kinderhuis het ook deurentyd donasies ontvang en goeie verkope geniet.
“Die winkel is een van ons stabielste inkomstestrome,” sê sy. “Elke skenking en elke aankoop maak ’n tasbare verskil.”
Die grootste fondsinsamelingsprojek, die jaarlikse Liggiefees, word hierdie jaar vir die 15de keer aangebied.
Vanjaar se tema, Kersfees reg rondom die wêreld, beloof ’n reeks nuwe dekor, voorafbepaalde roetes en vermaaklikheids-ervarings vir die publiek.
Meer as 60 kunstenaars, onder meer Steve Hofmeyr, tree gratis oor verskeie dae op, terwyl ’n nuwe groot verhoog spesifiek gebou is vir die geleentheid. Hofmeyr is op die Liggiesfeesverhoog op 15 Desember.
“Die Liggiefees is vir ons nie net ’n fees nie. Dit is ’n noodsaaklike bron van finansiering wat help om ons kwartaal-uitgawes aan te vul,” sê Grobler.
“Dit is ook ’n ongelooflike manier om die gemeenskap op ons terrein te verwelkom en hulle te wys waarvoor hulle steun gee.”
Vier kunstenaars wat die groep die Dadness vorm is van die kunstenaars wat vanjaar hul suksesvolle jaar afsluit deur gratis op te tree.
Groeplid, Theo Swanepoel sê: “Ons het besluit om betrokke te raak by die fees omdat ons pa’s is en ons het ’n hart vir kinders. Ons sal enigiets doen om kinders te ondersteun en wil graag ’n bydrae lewer vir die gemeenskap op die manier wat ons kan. In die algemeen doen mense min genoeg vir ander mense en met ons deelname wil ons net die beste gee en iets beteken vir die kinders.” Die Dadness sal op 17 Desember optree.

Hy glo die lewe is gejaag en mense fokus te veel op hulself.
“Die beste tyd om te gee is Kersfeestyd en dit is ook Jesus se hart vir ons. Dit is wat ons graag sal wil verteenwoordig, sy hart vir die kinders. ”

Die Liggiesfees duur vanaf 28 November tot 23 Desember.
Toegangsgelde is vasgestel op R60 per volwassene, R40 per kind en R40 per pensioenaris. Kinders jonger as drie jaar kry gratis toegang.
Besprekings is reeds oop, en belangstellendes word aangemoedig om hul kaartjies betyds te bespreek via TIXSA by: https://tickets.tixsa.co.za/event/jakaranda-kinderhuis-liggiefees-2025.
Veilige en betroubare parkeerplek word deur die buurhoërskool FH Odendaal aangebied teen R30 per motor. Die fees is rolstoelvriendelik en troeteldiere word verwelkom, mits hulle aan ’n leiband is. Hekke open daagliks om 18:00 en sluit om 22:00, met Sondae ingesluit.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
