Local news

Moot-projek bring herstel en trots

Die projek gaan voort om die gemeenskap te inspireer en ’n trotse en gevestigde area van Pretoria uit te bou, straat vir straat.

Vanjaar het die nie-winsgewende organiasie, Die Moot Projek, voortgegaan om die Moot op te knap.

Die fokus was op verfwerk en herstel van munisipale infrastruktuur, sowel as ’n aantal groot individuele projekte wat die omgewing ’n aantrekliker en netjieser plek maak om in te woon en werk.

Johan Oberholster, mede-stigter van Die Moot Projek, het aan Rekord gesê: “Ons werk en streef daarna om die Moot straat vir straat, lamppaal vir lamppaal, weer sy glans te gee. Dit gaan nie net oor verf nie, dit gaan oor die gevoel van trots wat dit vir die gemeenskap bring.”

Die afgelope jare is sulke infrastruktuurverfwerk suksesvol afgehandel in Rietondale, Pierneefrant, Queenswood, Waverley, Môregloed en Riviera.

Met dié areas wat aandag geniet het, het Die Moot Projek vanjaar ook ander dele van die Moot geteiken.

Volgens Oberholster volg die verfwerk steeds die standaardkleure van die metro se munisipale infrastruktuur.

Geel robotpale word geverf, lamppale silwer en swart, en ander infrastruktuuritems kry hul oorspronklike kleure terug.

“Hierdie konsekwentheid is belangrik omdat dit help om die area nie net netjies nie, maar ook herkenbaar en vol harmonie te maak,” voeg Oberholster by.

Hy beklemtoon die werk sou egter nie moontlik wees sonder die ondersteuning van die gemeenskap nie.

Al die projekte word finansieel moontlik gemaak deur donasies van inwoners en besighede wat hul deel wil bydra.

Oberholster sê: “Elke bydrae, groot of klein, maak ’n verskil. Die bestuur van Die Moot Projek werk vrywillig en besighede lewer materiaal teen voorkeurpryse. Dit hou ons koste laag en maak elke rand doeltreffend vir die gemeenskap.”

In Kilnerpark het die spanne onlangs ingespring om slaggate toe te maak en paaie veiliger te maak. Foto: Verskaf

Hoewel Die Moot Projek fokus op verfwerk en herstel van infrastruktuur, wys Oberholster daarop dat die sleepwa-vervaardiger Afrit se deurlopende instandhouding van parke in die Moot ’n waardevolle bydrae bly tot die verfraaiing van die area.

Die projek volg steeds die beginsels van die ‘Broken Windows Theory’: deur klein instandhoudings-aksies soos verfwerk prioriteit te gee, voorkom dit groter verval en help dit om die area veiliger en netjieser te hou.

Hierdie jaar is ongeveer 6 800 lamppale, bushaltes, swaai-asblikke, kragbokse en robotpale opgeknap en in hul oorspronklike metrokleure oorgeverf.

Die verfwerk het hoofsaaklik in Koedoespoort, Villieria en groot dele van Rietfontein en Gezina plaasgevind.

Groot individuele projekte het ook ’n merkwaardige verskil gemaak.

Die palissade-omheining van Oos-Moot Retirement Village in Meyerstraat, Villieria, is oorgeverf met donasies van die gemeenskap om die lewensomgewing van die bejaarde inwoners op te helder.

Die ingang tot die Moot in Parkerstraat langs Ons Tuis is ook met waterwys plante en gepakte klippe verfraai, wat die voor- en kantaansig van die aftree-kompleks aantrekliker gemaak het.

In Rietfontein is die palissade-heining van Toutrekpark in Frederikastraat en omliggende strate suksesvol opgeknap. Rietondalepark se kinderspeelpark is ook herstel en oorgeverf, en ’n muur is in helder kleure geskilder om die area vir die kinders opwindend te maak.

Oberholster vertel trots die duikweggebied en infrastruktuur wes van Builders Warehouse op Steve Bikoweg is skoongemaak en geverf, terwyl Hardy Mullersirkel en die omliggende gebiede netjies en goed onderhou is.

’n Groot projek is aangepak om die spruit tussen 16de en 20ste Laan in Rietfontein skoon te maak, met meer as 1 100 sakke vullis wat in die eerste helfte van die jaar verwyder is.

By Moot Slothuispark, oorkant Oppieplaas, is die wandellaan herstel en rusbankies vir stappers gebou. ’n Mark word ook van tyd tot tyd daar aangebied.

Oberholster sluit af: “Dit is wonderlik om te sien hoe klein aksies, soos die opknap van ’n lamppaal of speeltoestel, ’n groot verskil in die gemeenskap kan maak. Ons doen dit alles omdat ons van die Moot hou en ’n leefbare, skoon en kleurvolle area vir almal wil skep.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button