Local news

Trollies vol hoop vir diereskuilings

'n Kersfees trollie-lopie het meer as R100 000 se kos, medisyne en bederfies aan dierewelsyn-organisasies soos Wollies, die DBV en Soshanguve Animal Centre se kaste beteken. Die organisasies het vier minute gehad om produkte ter waarde van R10 000 in te pak.

Dit gaan ’n besonderse Kersfees vir Dawid die donkie by Wollies Animal Project wees asook vir die meer as duisend ander diere daar sowel as die diere by die Dierebeskermingsvereniging en die diere by Soshanguve Animal Centre.

Danksy ’n unieke en opwindende trollie-lopie (trolley dash), gereël om Pretoria se diereskuilings deur die feesseisoen te ondersteun, is daar gesorg dat kos- en medisynekaste nie leeg staan wanneer die klok Oukersaand om middernag slaan nie.

Wat begin het as ’n idee om die nood by skuilings te verlig, het ’n dag geword wat gevul was met pret, hartroerende oomblikke en trollies wat hoog gestapel was met produkte en met hoop.

Elke organisasie het vier minute gekry om trollies vol te pak tot die waarde van R10 000 elk. GROOTfm 90.5 het twee trollies geborg en Airport Pets die derde.

Verder het Lindie en Shaun Fouche van Airport Pets hul verskaffers oortuig om bykomende skenkings te maak.

Die totale waarde van die dag se insamelings per skuiling het meer as R100 000 beloop. Elke trollie was propvol kos, bederfies, medisyne en ander noodsaaklike items wat skuilings dringend benodig.

Cilla Trextler van Wollies Diereskuiling vertel dat die trollie-lopie by die pakhuis in die Kameeldrift-omgewing nie net ’n groot seën vir die diere was nie, maar ook vir die personeel en vrywilligers van die dierereddings- en welsynsorganisasies wat deelgeneem het.

“Elke skuiling is toegelaat om R10 000 se goedere binne vier minute van die rakke af te haal volgens hul wenslysies. Vir Wollies het dit beteken ons kon onder meer middels teen vlooie en vlieë kry, asook aanvullings wat ons oor die kos kan strooi om immuniteit op te bou,” vertel sy.

Trextler beskryf die atmosfeer voor en tydens die trollie-lopie as warm, vrolik en vol samehorigheid.

“Dit was onbeskryflik lekker om saam met GROOTfm 90.5 en die ander skuilings só ’n prettige oggend deur te bring. Nou het ons nog net Marie-beskuitjies op ons koswenslysie!”

Hierdie Marie-beskuitjies is natuurlik vir niemand anders as Dawid nie, die skuiling se eenjarige donkie wat vroeër vanjaar verdwaal deur ’n motorhawe se personeel aangetref is en na Wollies gebring is.

Hy het vinnig deel van die Wollies-familie geword en is hartlik verwelkom as maat vir treurende Lallie nadat haar maat Kallie op Nuwejaarsdag vanjaar dood is.

Trexler verduidelik met ’n glimlag: “Dawid stap sommer by die kantoor in, so verby die katte wat ook op kantoor kom kuier en kies koers reguit na die kas waar ons sy bederfies hou. Hy is ’n lekkerbek en het ’n voorkeur vir ’n Marie-beskuitjie en ons het nou maar ook ’n wenslysie vir ’n paar Kerspakkies met beskuitjies in vir ons onnutsige Dawid.”

Dawid die voorbarige donkie van Wollies Animal Project Foto: Verskaf

Vir Wollies, wat sowat 1 000 diere op hul perseel versorg, beteken die trollie-lopie werklik ’n verligting in ’n tyd van die jaar wat swaar kan druk.

GROOTfm 90.5 het die behoefte vir diereprodukte en kos in die gemeenskap raakgesien en besluit om die idee in aksie te omskep.

Sonet Stofberg, woordvoerder van die radiostasie, verduidelik die werklikhede van vakansies by diereskuilings: “Met ’n toevloei van diere gedurende hierdie tydperk saam met donasies wat opdroog as gevolg van feesseisoen-uitgawes en die gevreesde drie-maande-lange Januarie, is die feesseisoen vir skuilings alles behalwe, wel, feestelik.

Die Fouchés het sonder huiwering ingespring om te help.

Shaun vertel hoekom hulle dadelik betrokke geraak het: “Diere kort ook Kersgeskenke, glo ons, en ons sien dit as deel van ons poging om Kersfees vir almal by die skuilings makliker te maak.”

Hy doen ook ’n beroep op inwoners: “Baie skuilings het nie net finansiële hulp nodig nie, maar iemand wat met die diere kan speel of aandag kan gee. Maak hierdie Kersfees ’n verskil deur ’n bietjie van jouself vir diere te gee.”

Soshanguve Animal Shelter, onder leiding van stigter Tebogo Maredi, het ook groot baat gevind by die trollie-lopie.

Die skuiling fokus nie net op die redding van verwaarloosde diere nie, maar ook op die opvoeding van kinders in die gemeenskap oor verantwoordelike troeteldier-sorg.

Tebogo vertel met dankbaarheid: “Ons was so geëerd om genooi te word, want daar was geen beperking aan wat ons vir die spesifieke bedrag in die tyd kon afhaal nie. Daar is altyd ’n groot nood vir medisyne en vlooi- en bosluisbehandeling, en ons het daarvan gekry.”

Vir hom was daar ook veel waarde om kontak te kon maak: “Wat egter die beste was, was om weer saam met ander skuilings bymekaar te kom en nie so alleen in hierdie stryd om diere te beskerm, te voel nie. Dis ook ’n wonderlike platform vir ons om ons dienste bekend te maak. Ons is super dankbaar vir hierdie projek.”

– As jy wil help met wenslysies: Tebogo Moredi van Soshanguve Animal Shelter se wenslysie sluit medikasie en vlooibehandelings in sowel as hondekos (nat en droog asook vir klein hondjies), hondemelk, hondelekkernye en kougoed, komberse en hondetruie, hondebeddens, sakkies om honde se ‘landmyne’ op te tel en kos- en waterbakke.

Wollies vra vir inbetalings op hul veeartsrekening vir moontlike noodgevalle tydens die vakansietydperk. Moredi kan by 0823427905 bereik word en Wollies se bankbesonderhede vir die veeartsrekeninge is beskikbaar by die kantoor 083 339 1692.

Kliek hier om te sien hoe Dawid en Lallie hul daaglikse bederfie kom soek by Wollies se kantoor

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button