Driemanskap verfraai verkeershoek in Doornpoort
Wat begin het as een man se frustrasie oor rommel en onwettige padgebruik, het gegroei tot ’n gemeenskapsprojek wat trots herstel, veiligheid verbeter en inwoners saambring by ’n besige kruising in Doornpoort.
Waar Airport en Dr Swanepoelstrate mekaar kruis, op die grens waar ou en nuwe Doornpoort bymekaar kom, gebeur daar al vir meer as ’n jaar lank ’n verfraaiingswonderwerk.
Waar daar eens hoë gras, swak sigbaarheid en rommel was, is daar vandag op die vier verkeershoeke vier tuine gevestig en is die verfraaiing daarvan in wording, met een tuin reeds die trots van die buurt.
Die dryfkrag agter dié drastiese verandering in die omgewing is drie afgetredenes, Vic Els, Tinus Lombard en Ig Grundlingh. Hulle het sedert Januarie 2024 op hul eie en vrywillig verantwoordelikheid geneem het om eers een en toe nog drie verkeershoeke rondom ’n besige kruising te verfraai, veiliger te maak en skoon te hou.
Vir Vic Els het alles op 30 Desember 2023 begin. Hy het destyds alleen begin inval by die kruising, lank voordat dit ’n spanpoging geword het. Els woon reeds byna ses jaar in die omgewing en sê dit was frustrasie wat hom uiteindelik laat optree het.
“Ek het vies geword vir die karre wat sommer net so deurjaag oor die stopstraat en die gras wat so hoog staan dat jy nie eers die huise se mure kan sien nie. Dit was vir my so ongedissiplineerd. Ek het net gevoel ek is nie so grootgemaak nie en ek moet iets doen om dit beter te laat lyk sodat mense beter kan optree,” vertel hy.

Wat as ’n vrywillige eenmanpoging begin het, het gou momentum gekry.
Vandag geniet Els dit terdeë om as afgetredene saam met Grundlingh en Lombard te werk wat vrywillig by hom aangesluit het nadat hulle beide bloot ’n slag gestop het by die tuin-in-wording en aan die gesels geraak het.
“Nou werk ons minstens twee keer per week hier in die tuin. Tuin 1, 2 en 3, is reeds gevestig en ons het sopas begin met Tuin 4,” sê hy.
Altesaam strek die vier tuine wat die driemanskap nou onderhou oor sowat 2 400 vierkante meter.
Vriendelike en innemende Grundlingh het destyds een oggend hier verby gery, die poging raakgesien en besluit om hand by te sit.
“Wat vir ons tevredenheid gee, is dat sedert ons hier begin werk en skoongemaak het, het daar ook van die ander mense in die buurt meer na hul sypaadjies begin omsien, veral in die onmiddellike omgewing van ons tuin. En dit bemoedig ons,” sê hy.
Die driemanskap het ses maande gelede formeel ’n Adopt-a-Spot-aansoek by die metro ingedien. Alles is reeds goedgekeur en hulle wag net op die finale formele bevestiging.

In Tuin 1 is daar reeds meer as 500 plante geplant, wat deur mense in die gemeenskap geskenk is.
Daar is waardevolle bome geskenk soos ’n kiepersol, twee kremetartbome en etlike halfmensbome, asook kleurvolle plantjies soos Afrikanertjies en Jakobregops. ’n Ry spoggerige konifeerbome is ook reeds geplant.
Op ’n besondere goeie dag vir die driemanskap het ’n skenker sommer langs die pad stilgehou en aangebied om teerpale beskikbaar te stel sodat Tuin 1 afgeskerm kon word en ’n klein park kon word waardeur die buurtmense kon stap.
Die afskerm van die tuin en daarstelling van ’n hefboomhek kon ook daartoe lei dat die buurt se brandkraan nou beskermd is en makliker tot die gebruik van die plaaslike gemeenskapsforum se beskikking in noodgevalle is.
Water vir die tuine kom van boorgate in die omgewing en van hul eie boorgate, wat aangery en in ’n watertenk geberg en uitgepomp word.
Grundlingh is die een wat skakeling met moontlike skenkers doen en meestal vir skenkings vra. Hy is telkens verras deur mense se goedhartigheid.
Wat vir die driemanskap en ook die buurtbewoners opmerklik is, is hoe die area verander het.
Mense wat vroeër in die bosse geslaap het waar daar nou tuine is, gebruik nie meer die gebied nie.
Rommelstrooiing het drasties afgeneem, en die area word nie meer as ’n toilet misbruik nie.
Die driemanskap is baie dankbaar vir donasies soos van grasverkopers wat kikoejoegras kom aflaai het. Ander borge wat gehelp het is: Chamberlains, Build-It, Africa Tanks, F&R Steel and Manufacturing, Pureview Fencing, Astron Fuels, Africa Green Organics, FBS Skips, Zenzele Bricks, Galito’s, Doornpoort Hardeware, Monta Nursery, Tjokkerland, Peter Harrison, Duan Van Zyl, Timeless Frame Productions en Dirk Bannister.
’n Besonder betekenisvolle element van Tuin 1 is ’n kruis wat opgerig is en met klipmandjies omring word. Enigiemand wat wil, kan ’n klip kom neersit, en so word die fokuspunt ’n stil plek vir nadenke en herinnering.
‘’n Gebedsoond’ soos Els dit stel.
Lombard sê hy kon oor tyd sien hoe die area rondom die tuine verander. “Ek kon sien hoe daar met die bou van nuwe infrastruktuur meer verkeer kom, maar ook hoe veral rommelstrooiing minder word.”
Vir hom was die besluit om by die driemanskap aan te sluit eenvoudig. “Vir my is dit net dat ’n mens moet begin voordat jy kan klaarkry. As niemand gaan begin nie, gaan niks momentum kry nie, en dis hoekom ek aangesluit het,” sê hy.
Die driemanskap het selfs al briefies ontvang waarin dankbaarheid uitgespreek is, iets wat hulle diep waardeer.
Op hul wenslys is ekstra hande om te help met weeklikse onderhoud en om die ander hoeke verder te ontwikkel. Hulle benodig ook nog petrolaangedrewe grassnyers, randsnyers, en ander toerusting. Tans gebruik hulle hul eie, en daar is ooreenkomste met verskeie barmhartige tuinsamaritane vir brandstofbydraes.
’n Groter kragopwekker, en selfs ’n klein ‘ride-on’ grassnyer is drome vir die toekoms.
Ten spyte van die harde werk in die warm son en soms gure weer, sê Grundlingh (die gesamentelike ouderdom van die driemanskap is byna 210 jaar) bly alles steeds die moeite werd.
“Dis lekker dat ons gesinne ook trots is dat ons ons passie vir tuinmaak op só ’n manier tot voordeel van die gemeenskap kan uitleef,” sê hy.
Al lyk die tuine vernuftig en vindingryk beplan, lag die driemanskap en erken hulle skat maar meestal met die oog wat om te doen wannneer iemand plante bring.
Hulle het al sowat 30 name vir die tuine oorweeg, maar moet nog finaal besluit op ‘n naam. Hoog op die lys is Klein Eden of Ons Eden.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
