Tshwane metro verklaar ‘oorlog’ teen slaggate met nuwe tegnologie
’n Nuwe innoverende hersteltegnologie is geloods om vinniger, blywende padherstelwerk te lewer.
Met aanhoudende reën wat paaie in die stad se agteruitgang versnel, verskerp die Tshwane metro hul progings om die padnetwerk te beskerm en te herstel deur kapasiteit te versterk en meer veerkragtige hersteloplossings in te stel.
Die nat weer plaas bykomende druk op munisipale infrastruktuur, wat die gereedheid en duursaamheid daarvan gedurende die reënseisoen toets.
Om vinniger en blywende herstelwerk aan paaie te lewer, het die metro nou ’n innoverende slaggat-herstelmateriaal geloods wat só ontwerp is dat dit sterker binding, vinniger verhardingstye en verbeterde prestasie onder uitdagende weersomstandighede voorsien.
Tshwane-burgemeester dr. Nasiphi Moya sê “Ons oorlog teen slaggate gaan oor meer as net om beskadigde paaie reg te maak. Dit gaan oor die holistiese herstel en instandhouding van Tshwane se padinfrastruktuur.”
Moya sê hierdie nuwe tegnologie, bekend as GrooveTech, laat die metro toe om voort te gaan om paaie te herstel, selfs in moeilike weersomstandighede, wat herhaalde mislukkings sal verminder en ontwrigting vir padgebruikers sal beperk.
“Dit bou voort op beleggings wat in Novembaar verlede jaar gemaak is, toe die stad twee jetpatchers aangeskaf en ontplooi het, wat steeds van kritieke belang is vir vinnige, hoë-volume slaggatherstelwerk regoor Tshwane,” verduidelik sy.
“Saam stel die twee tegnologieë die stad in staat om vinnig te reageer op padskade, terwyl hulle geleidelik blywende herstelwerk op sleutelroetes sal kan lewer,” voeg sy by.
Moya beklemtoon dat innovasie bestaande bedryfskapasiteit sal aanvul, en nie vervang nie.
“Bon Accord Quarry dien steeds as ’n strategiese munisipale bate, verskaf hoë-kwaliteit warm asfalt vir programme wat paaie heropbou en vir permanente padherstel. Dit verseker gehaltebeheer, koste-effektiwiteit en betroubare materiaalvoorsiening.”
Moya sê ’n gebalanseerde benadering is noodsaaklik, veral gedurende die reënseisoen.
“Tydelike herstelwerk alleen is nie genoeg nie, maar ook nie innovasie in isolasie nie. Ons kombineer doelbewus vaardige munisipale spanne, moderne toerusting, innoverende materiaal en betroubare tradisionele metodes om ’n veerkragtige padnetwerk te bou.”
Sy voeg by dat 28 werkers in November opgelei en in gespesialiseerde slaggat-hersteltegnieke geakkrediteer is, wat die interne kapasiteit versterk en die kwaliteit en veiligheid van herstelwerk sal verbeter.
“Terwyl die stad voortgaan om sy padonderhoudprogram uit te voer, bly die fokus op die vermindering van langtermyn onderhoudsagterstand, verbetering van koördinasie en om te verseker dat paaie veilig en funksioneel bly vir inwoners, besighede en pendelaars.”
“Ons benadering verseker dat ons paaie seisoenale druk kan weerstaan terwyl die daaglikse ervaring van inwoners en padverbruikers regoor die metro verbeter word,” het die burgemeester gese.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel