Local news

Inwoners se toekoms onseker nadat woonstelblok verkoop is

Bejaarde militêre veterane en hul families by Ad Astra-woonstelblok in Eloffsdal leef in onsekerheid ná ontruimingskennisgewings. Terwyl die eienaar, Air Forces Housing Memorial NPC, die verkoping as wettig en noodsaaklik beskryf, sê inwoners ’n foutiewe ontruimingsdatum het hul paniek vererger.

Bejaarde militêre veterane en hul families by die Ad Astra-woonstelle in Eloffsdal is in onsekerheid gedompel ná hulle kennisgewings ontvang het om hul woonstelle te ontruim.

Terwyl die Air Forces Housing Memorial NPC (AFHM) volhou dat die verkoping wettig en noodsaaklik is vir volhoubaarheid, beskryf inwoners die proses as skielik, onpersoonlik en ontwrigtend. ’n Aanvanklike foutiewe ontruimingsdatum, later reggestel, het paniek en vrees onder kwesbare inwoners vererger.

Sommige van die inwoners is al ver bo 80, beweeg met rolstoele of looprame, en woon al langer as ses jaar in die woonstelle.

Die president van die South African Air Force Association (SAAFA), eerw. Trevor Slade, het aan Rekord beklemtoon dat veterane steeds ’n kernfokus van die organisasie bly, veral senior lede wat hulself in nood bevind.

Inwoners doen ’n beroep op militêre veteraanorganisasies soos SAAFA om tussenbeide te tree.

In ’n skriftelike antwoord aan Rekord het Slade gesê SAAFA hou sy lede “in die hoogste agting”, met kameraderie en welwillendheid as grondpilare.

Volgens hom word alle versoeke landwyd om hulp oorweeg, insluitend finansiële bystand, en werk SAAFA ook saam met die Departement van Militêre Veterane om toegang tot behuising, gesondheidsorg, berading en hervestigingshulp te fasiliteer.

Hy het egter duidelik gemaak dat hy nie oor die bestuur of sake van Ad Astra-woonstelle kan kommentaar lewer nie, en het mediavrae na die direksie van die betrokke entiteit verwys.

Vir die inwoners van die Ad Astra-woonstelle bring hierdie versekering min troos.
Hulle het op voorwaarde dat hul anoniem bly, met Rekord gesels.

Onderhoude wat onlangs met hulle gevoer is, skets ’n prentjie van onsekerheid, vrees en ’n gevoel dat hul lewenslange diens aan die land min gewig dra in die aangesig van ’n eiendomsverkoping en ’n kennisgewing om te verhuis.

Een van die inwoners met ’n eie, sowel as lang gesinstradisie van diens aan die Lugmag, vertel hy was al die jare dankbaar vir ’n dak oor sy kop, maar beskryf die situasie as ‘uitdagend’.

Hy vertel dat daar reeds in Desember met ’n komitee vergader is, waar hulle vir die eerste keer van ’n moontlike verkoping gehoor het.

“Ek dank God vir behuising, maar wat nou gebeur, voel onmenslik,” sê hy.

’n Ander inwoner bevraagteken die komitee se mandaat. Volgens hom was daar ’n duidelike begrip dat verkoping slegs sou plaasvind indien niemand van die Lugmag meer daar woon nie. “Nou sit ons almal met kennisgewings en geen sekerheid nie,” sê hy.

Die maandelikse huur word aangepas volgens wat die inwoners verdien. Vir baie wat van Sassa-toelaes afhanklik is (net meer as R2 000), is daar veel finansiële implikasies sou hulle moet verhuis, soos fisiese verhuisingskoste, deposito’s by nuwe woonplekke en dienste-aansluitingsfooie.

Een inwoner is diep bekommerd oor die manier waarop die verkoping hanteer is. “Ons het reeds op 1 Augustus 2025 geweet ons is op maand-tot-maand-kontrakte, maar geen ontruimingsdatum is genoem nie. Dit maak dit egter nie reg nie.

“Met die eerste verkeerdelike kennisgewing gedateer 5 Januarie van ’n verhuringsmaatskappy moes ons op 2 Februarie die woonstelle ontruim het. Die kennisgewing is vervang met ’n kennisgewing wat aandui ons moet op 28 Februarie die woonstelle ontruim. Wie van ons het R5 000 vir ’n trek?”

’n Inwoner voeg by dat hulle ook kontrakverwante kostes by ’n nuwe plek sal moet betaal. “Dit is net te veel. Die plekke wat in die verhuringsagent se brief genoem word as nuwe moontlikhede vir behuising vir ons, is heeltemal buite ons bereik. Ons leef van Sassa.”

Een inwoner beskryf die inwoners as die “weggooikinders van die regering. Ons is gebruik om vir die land te werk. Nou, op ons oudag, het ons geen voordele nie. Baie van die plekke wat aangebied word, vat nie seniors bo 80 nie. Party van ons is in rolstoele, ander is 24/7 op suurstof. Waarheen moet ons gaan?”

Inwoners wys daarop dat daar in ’n brief van 16 Januarie vanaf die AHFM se regsverteenwoordiger erken is dat ’n fout gemaak is met die oorspronklike datum wanneer woonstelle ontruim moet word. ’n Gekorrigeerde kennisgewing stel nou 28 Februarie as ontruimingsdatum.

Vir baie bejaarde en kwesbare inwoners het die aanvanklike datum die indruk geskep dat hulle binne weke, eerder as ’n maand, hul woonstelle sou moes verlaat.

Teenoor hierdie klagtes staan die formele reaksie van die AFHM.

Volgens die direksie maak die organisasie se Akte van Oprigting nie voorsiening vir permanente of langtermynbehuising vir ’n beperkte groep voormalige Lugmaglede nie.

Die akte lui so: “Om lede en oudlede by te staan van die Geallieerde Lugmag wat in die 1939 tot 1945 konflikte betrokke was, om behuisingsakkommodasie of huise te bekom en om te voorsien of by te staan in die voorsiening van woonstelle of ander behuisingsakkommodasie.”

Die mandaat is volgens die AFHM-antwoorde op vrae van Rekord, om bystand te verleen – nie om verblyf vir onbepaalde tyd vir uitgesoekte kandidate te voorsien nie. Die besluit om die Ad Astra-blok te verkoop is, volgens AFHM, geneem weens onvolhoubare bedryfskoste en stygende onderhoud.

Die verklaring lui: “Die besluit om die Ad Astra-woonstelle te verkoop was ’n resultaat van onvolhoubare operasionele uitgawes en stygende onderhoudswerk wat nie langer finansieel moontlik is nie, en as ’n alternatief om die maatskappy in vrywillige likwidasie te plaas.”

AFHM voer aan dat ’n omvattende assessering voor die neem van die besluit deur die direksie gedoen is, insluitend die toestand van die gebou en toekomstige kostes.

Alternatiewe verblyfopsies is deur die AFHM aan inwoners gekommunikeer, maar is deur talle van die hand gewys.

Die AFHM beklemtoon ook dat alle inwoners op maand-tot-maand-kontrakte is sedert die middel van verlede jaar en dat ’n eenmaandkennisgewing ingevolge die Huurbehuisingswet wettig is.

Die AFHM weier om die koopkontrak, verkoopprys of koper se identiteit bekend te maak, met verwysing na kontraktuele vertroulikheid en POPIA (Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting). Hulle verwerp die inwoners se bewerings dat die proses van inkennisstelling vir ontruiming volgens die maand-tot-maand-kontrak onwettig was.

Die verklaring lui: “Die direkteure het te alle tye wettig, redelik en te goede trou opgetree.”

Die maatskappy benadruk verder dat hy regtens en statutêr verplig is om sy bates verantwoordelik te bestuur in belang van die organisasie se langtermyn-voortbestaan.

Volgens die direksie sou die voortgesette instandhouding van die verouderende Ad Astra-gebou, wat reeds tekens van strukturele agteruitgang toon, vereis het dat huur moontlik verhoog sal moet word oor die onderhoudskoste.

Die verkoop van die eiendom word deur die direksie voorgehou as ’n noodsaaklike ingryping om die AFHM se vermoë te beskerm om in die toekoms bystand aan ’n wyer groep kandidate te lewer, eerder as om beperkte fondse op een enkele eiendom te konsentreer.

AFHM voer ook aan dat hy nie ’n verlengstuk van die Suid-Afrikaanse Lugmag of SAAFA is nie, maar ’n onafhanklike, nie-winsgewende maatskappy wat ingevolge die Maatskappywet funksioneer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button