Oortredings en wanbestuur in behuisingsprojekte wek ernstige kommer
Bevindinge van finansiële en administratiewe wanbestuur in ’n verslag oor behuisingsprojekte skep ernstige kommer. Die VF Plus doen ’n dringende beroep op rekenskap en herstelplanne.
Die VF Plus het ernstige kommer uitgespreek oor moontlike oortredings van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) deur die metro se Departement van Menslike Nedersettings.
Dit volg ná ’n verslag oor toekenningsbesteding vir die 2024/25-finansiële jaar tydens ’n onlangse metroraadsvergadering ter tafel gelê is.
Volgens die party dui die bevindinge op sistemiese wanbestuur wat direk dienslewering in die metro se mees kwesbare gemeenskappe raak.
VF Plus-raadslid Lenor Janse van Rensburg sê die verslag skets ’n ontstellende prentjie van projekte wat geknou word deur swak kontrakteursprestasie, laatbetalings deur die metro, verlate terreine en ’n duidelike gebrek aan kapasiteit binne die administrasie.
Hierdie kombinasie van faktore het, volgens haar, ’n kettingreaksie veroorsaak wat projekte tot stilstand bring en die kwaliteit van dienslewering ernstig ondermyn.
“Die MFMA is duidelik: alle kontraktuele verpligtinge moet binne 30 dae nagekom word. Tog bevestig die verslag dat die metro se eie laatbetalings kontrakteurs genoop het om werk te staak of terreine te verlaat. Dit is nie net swak bestuur nie, dit is ’n direkte oortreding van die wet,” sê Janse van Rensburg.
Sy waarsku dat hierdie praktyke die metro blootstel aan beduidende finansiële en regsrisiko’s, terwyl inwoners die prys betaal in die vorm van onvoltooide projekte en verlore hoop.
Volgens haar dui voortdurende vertragings in verkryging, ontwerpgoedkeurings en kontrakbestuur op ’n gebrek aan deursigtigheid en doeltreffende risikobestuur – kernvereistes van die MFMA.
“Volle besteding beteken niks as daar geen tasbare uitkomste is nie. Geld wat uitgegee word, moet sigbare verbeterings in mense se lewens bring, nie halfvoltooide strukture en verlate boupersele nie,” sê sy.
Van die projekte wat hierdie breër krisis skerp illustreer, is die Townlandsprojek in die middestad, die Refilwe-watertoring in Pretoria-oos en die Chantelle-maatskaplike behuisingsprojek in die Akasia-gebied.
Van Rensburg verwys in detail na die laaste projek as voorbeeld.
Volgens haar is die Chantelle-projek, wat in Junie 2022 met groot verwagtinge van stapel gestuur is en onder bestuur van die Housing Company Tshwane geval het, bedoel om ’n volhoubare oplossing vir die groeiende behuisingskrisis te bied.
In plaas daarvan het dit, volgens Van Rensburg, ontaard in ’n finansiële en administratiewe ramp.
’n Amptelike verslag wat aan die raad voorgelê is, toon dat die kontrakteur vir die bou van 600 eenhede meer as R118-miljoen betaal is voordat die kontrak op 15 Mei 2024 beëindig is.
Ten spyte hiervan is slegs 82 dorpstrukture voltooi en het die projek se vordering op ongeveer 25% gestaan.
“Ons sit nou met ’n situasie waar meer as R118-miljoen bestee is, maar die gemeenskap het byna niks om daarvoor te wys nie. Dit is onaanvaarbaar,” sê Janse van Rensburg.
Sy voeg by dat die metro tans deur litigasie probeer om R4.6-miljoen uit die kontrakteur se borg te verhaal vir gebrekkige werk en onbetaalde subkontrakteurs, wat die totale finansiële blootstelling op sowat R123-miljoen te staan bring.

Om die omvang van die verlies te beklemtoon, wys sy daarop dat dieselfde bedrag bykans 450 HOP-huise kon finansier het.
“Dit sou werklik ’n verskil in mense se lewens gemaak het,” sê sy.
Die verslag dui verder op ernstige administratiewe tekortkominge. Dit sluit in ’n vertraging van 12 maande in die uitreiking van ’n kritieke sertifikaat wat konstruksie tot stilstand gebring het, asook laat of geen betalings deur die metro wat die kontrakteur genoop het om werk te staak.
Daar was volgens die verslag swak toesig, geen tydige ingryping ondanks duidelike tekens van onderprestasie nie, en geen befondsing vir die projek in die 2025/26-boekjaar nie, wat die bouwerk effektief permanent gestaak het.
“Hoe is dit moontlik dat ’n projek van hierdie omvang voortgaan sonder behoorlike toesig en sonder ’n volhoubare begroting?” vra Janse van Rensburg.
Sy stel ook die vraag waarom kontrakteursprestasie nie aktief bestuur is nie, ten spyte van herhaalde waarskuwingstekens.
Die VF Plus dring daarop aan dat die administrasie rekenskap gee vir die R123-miljoen in openbare fondse wat nou verlore of in gevaar is, asook vir die skending van MFMA-betalingsvereistes.
Die party doen ’n beroep op die metro om ’n volledige MFMA-nakomingsoudit op alle menslike nedersettingsprojekte te doen, betalingstydlyne streng af te dwing, en amptenare wat die wet oortree, tot verantwoording te roep.
Verder vra die VF Plus dat die departement se kapasiteit versterk word deur die aanstelling van bevoegde projekbestuurders, en dat kwartaalverslae aan die raad gelewer word oor alle projekte, insluitend risiko’s, vertragings en regstellende maatreëls.
“Die Chantelle-projek moes hoop gebring het. In plaas daarvan het dit ontaard in ’n gevoel van verraad teenoor die inwoners wat al jare wag op waardige behuising,” sê Janse van Rensburg.
Sy beklemtoon dat die VF Plus verbind bly tot deursigtige, wettige en verantwoordbare bestuur en verwag dat die Tshwane-administrasie die hoogste standaarde sal handhaaf.
“Toekenningsbesteding moet uiteindelik omskep word in beter lewensomstandighede vir mense, nie in nog ’n lys van mislukte projekte en onbeantwoorde vrae nie,” sê sy.
Die party sê hy sal aanhou druk uitoefen vir volle aanspreeklikheid, behoorlike gevolgbestuur en ’n deursigtige herstelplan wat die belange van gemeenskappe eerste stel.
Kommentaar is van die metro versoek oor behuisingsprojekte wat aangepak maar nie voltooi is nie, maar geen is teen druktyd ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
