Van karaoke tot Loftus-droom
Carmen van Tonder se stem is nie meer net vir ’n klein gehoor bestem nie. Dit is ’n stem wat nou sy plek in die groter Suid-Afrikaanse musiekwêreld begin inneem.
Ná haar oorwinning in die Padstal Talent 2 – Sangkompetisie in Pretoria-oos wink ’n belowende loopbaan nou vir Carmen van Tonder van Montana, Pretoria-Noord.
Wat begin het as prettige karaoke-aande saam met familie, het gegroei tot ’n droom wat haar binnekort op die verhoog van Loftus Versfeld gaan plaas.
Sy het vir jare eintlik net karaoke gesing. Die eerste keer was saam met haar neef se vrou, Maryna Pretorius.
“Die bestuurder het gesê my stem is te goed vir net karaoke. Ek móét begin deelneem aan sangkompetisies,” vertel sy.
Sy het stadig maar seker selfvertroue opgebou om aan groter kompetisies deel te neem. Sy het onder meer by Stoepstories se sangkompetisie in 2025 ingeskryf en hard gewerk om haar stem te slyp.
Musiek lê diep in haar bloed. Haar pa, Bryce Britz, was self ’n musikant wat saam met bekende kunstenaars opgetree het.
Van Tonder onthou hoe sy as kind saam in sy kombi na musiekoptredes gereis en selfs op luidsprekers aan die slaap geraak het.
Later het sy by eisteddfods liedjies soos Vrot pampoen gesing en is geprys vir haar vertolkings, duidelik die vroeë tekens van ’n talent wat net gewag het om te blom.

Tog was haar pad om haarself as musikant en liedjieskrywer te vind, nie altyd maklik nie.
“Om in die kalklig te kom, is ongelooflik moeilik in Suid-Afrika, veral as jy net eers naam probeer maak,” sê sy eerlik.
Buiten sang was sy ’n assistent-onderwyser by Hoërskool Overkruin, waar sy kinders ondersteun het wat nie in hoofstroomskole hulself akademies kon handhaaf nie.
Sy het ’n groot liefde vir wiskunde en glo daarin om jongmense moed te gee.
“Ek hou daarvan om te skep. Ek is nie lief om ’n blikbrein te gebruik nie. Ek wil iets eg maak,” sê sy.
Haar kreatiwiteit wys ook in haar huis, wat vol ougoed is: van ’n grammofoonspeler tot plate en meubels wat herinner aan ’n ander era.
“Ek is die kunstige een in ons huwelik,” lag sy.
Sy was ook ’n talentvolle atleet en het in 2016 met hoogspring begin en die skolekampioenskap gewen.
Haar ondersteuningsnetwerk is sterk. Haar ma, Lona Meyer, wat Montana Basic Beauty bedryf, was van die begin af haar rots in haar loopbaan.
Voor die finaal het haar ma vir haar ’n bos blomme gekoop en gesê: “Jy is klaar ’n wenner vir my.”
Toe sy uiteindelik as wenner aangekondig word, het haar ma en sussie, Carla Britz, opgespring van blydskap.
’n Besonderse deel van haar verhaal is haar man, Hannes. Hulle het mekaar reeds op Laerskool Uniefees ontmoet toe sy tien en hy 12 was. Op 18 het hy haar vir koffie gevat, en toe sy 21 word, is hulle getroud.
Beide hy en haar sussie het ’n droom gehad dat sy eendag haar merk as ’n sanger sou maak.

Sy het die Padstal Talent 2 Sangkompetisie gewen nadat talle deelnemers hulle nommers in verskeie uitdunrondtes gesing het en sy uiteindelik in die finaal opgetree het.
Sy het onder meer Dans van Riana Nel gesing, en liedjies van kunstenaars soos Kristia Visser en Tasché vertolk om haar eie Jazz-rocker-styl te vind.
Deel van haar prys is ’n groot optrede op 28 Februarie by Loftus tydens die Bulls vs Sharks-rugbywedstryd, kompleet met vuurwerke en dansers.
Haar nuwe liedjie, Die Oorlog, se opname is ook deel van haar prys en sal ook vanjaar uitgereik word en wys ’n meer persoonlike, diep kant van haar kunstenaarskap.
Sy het net komplimente vir sanger en musiekpromotor Julanie J van Nu-Light en Ruan Tennant wat haar gementor het vir die Padstalkompetisie.
Met ’n familie wat haar onvoorwaardelik ondersteun, is Van Tonder gereed vir die volgende hoofstuk.
“Weer eens besef jy, jy is sterker wanneer jou familie jou beste vriende is,” sê sy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
