Local news

Pretoria-aftreeoord wenner van landswye tuinkompetisie

Die Woeker en Werk-Tuinekompetisie is laas jaar vir die eerste keer landswyd oopgestel. Aftree-oorde regoor Suid-Afrika het deelgeneem en die bekende beoordelaar, Leon Kluge, was beïndruk met die bejaardes se kreatiwiteit, waterwysheid en gemeenskapsgees.

Ons Tuis-aftreeoorde het op 26 Februarie die wenners van die 2025 Woeker en Werk-Tuinkompetisie tydens ’n formele prysuitdeling in die Moot aangekondig.

Die kompetisie, wat einde 2023 die eerste keer aangebied is, is vanjaar vir die eerste keer landswyd oopgestel en het inskrywings van residensiële geriewe vir bejaardes regoor Suid-Afrika gelok.

Die 2026-wenners is: Gauteng: Faerie Glen Renaissance Aftree-oord in Pretoria-oos; Limpopo: Ons Tuis Piet Potgieter in Mokopane; en Vrystaat: Ons Tuis Andrie Marié Oosthuizen in Parys.

Volgens Mari-Lizé Beukes, uitvoerende direkteur van Ons Tuis, is die kompetisie deel van die organisasie se strategie om aktiewe veroudering te bevorder.

“Die Woeker en Werk-Tuinkompetisie is gegrond in Ons Tuis se verbintenis tot die blou sone-konsep, ’n benadering wat fokus op gesonde eetgewoontes, natuurlike beweging, sosiale interaksie en ’n gevoel van gemeenskap,” het sy gesê.

Die tuine by Faerie Glen Renaissance Aftree-oord word gekenmerk deur netjiese paadjies, kleurvolle blomperke en ’n verskeidenheid inheemse plante wat harmonieus inmekaar vloei en ’n rustige, uitnodigende omgewing vir inwoners skep om daagliks te geniet. Foto: Verskaf

Beukes het verduidelik dat inwoners oor die seisoene saam aan hul tuine werk, wat terselfdertyd fisiese aktiwiteit, samewerking en trots in hul leefomgewing bevorder.

“Die kompetisie sluit direk aan by hierdie filosofie van aktiewe veroudering. Dit is praktiese welstand in aksie,” het Beukes gesê.

Die inskrywings is beoordeel deur die internasionaal bekroonde Suid-Afrikaanse landskapontwerper Leon Kluge, wat wêreldwyd erkenning geniet vir sy uitstallings by die RHS Chelsea Flower Show in Londen. Kluge en sy span het verskeie internasionale toekennings verower, insluitend goue medaljes en “Beste Uitstalling”-erkenning.

Kluge het die deelnemende tuine beoordeel volgens ontwerp en kreatiwiteit, plantkeuse en kleurskemas, watergebruik en volhoubaarheid, ruimtebenutting en algehele aanbieding.

Oor die Pretoria-wenner het hy gesê: “Die tuin het ’n vriendelike en uitnodigende ontwerp; dit bind die hele landgoed saam as ’n samehangende eenheid. Daar is uitstekend gebruik gemaak van plante wat goed in daardie omgewing aard. Dit is duidelik dat die gemeenskap trots is op hul tuine, en dit wys in die netheid en die onmiddellike, aangename visuele impak.”

Bekende en bekroonde tuinontwerper, Leon Kluge Foto: Facebook/Leon Kluge

Hy het veral die gebruik van waterwyse plante in droër, sonnige areas uitgelig.

“In die droër en sonnige dele sien ek dat waterwyse plante goed aangewend is, wat waterverbruik aansienlik verminder. Dit maak die tuine nie net mooi nie, maar ook baie prakties.”

Volgens Kluge kyk hy by beoordeling van gemeenskapstuine verder as blote estetika.

“Wanneer ek ’n gemeenskapstuin beoordeel, kyk ek verder as visuele skoonheid en fokus ek op die verhouding tussen mense en plek. ’n Suksesvolle tuin weerspieël sorg, eienaarskap en gesamentlike trots.”

Hy het bygevoeg dat volhoubaarheid, kreatiewe hergebruik van materiaal en sensitiwiteit vir plaaslike klimaatstoestande sleutelelemente is by hedendaagse tuinontwerp.

By Faerie Glen Renaissance Aftree-oord sê voorsitter Hans van der Merwe, dat die tuine ’n integrale deel van die oord se identiteit vorm.

“Faerie Glen Renaissance se tuine is ons trots en skep ’n omgewing waardeur inwoners se lewenskwaliteit positief verryk word. Die aantreklike, netjiese tuine word deur meeste inwoners beskou as een van die hoofredes waarom hulle hier gekoop het.”

Die oord bestaan uit 150 losstaande huise sonder heinings tussen erwe, wat ’n deurlopende landskap skep.

Gemeenskaplike tuine en ’n 1.2 km-wandelpad bied inwoners daaglikse toegang tot groen ruimtes. Plantkeuses sluit onder meer aalwyne, vetplante, strelitzias, broodbome, rose, azaleas en clivias in, met ’n sterk fokus op droogtebestande en inheemse spesies. Die oord gebruik ’n boorgat vir besproeiing van gemeenskaplike areas, terwyl baie inwoners waterbesparende stelsels by hul wonings geïnstalleer het.

Die kompetisie het ook tendense soos die integrasie van eetbare plante, herwinningsprojekte en handgemaakte tuinelemente uitgelig.

Volgens Kluge dui dit op ’n groeiende bewuswording van voedselweerbaarheid en selfversorging binne residensiële gemeenskappe.

Die wenners het pryse ontvang wat deur verskeie borge beskikbaar gestel is, waaronder Plantcare, Bergmann’s Garden Centre, Die Ann Van Dyk Cheetah Centre, Otima, Foodle Meals, Gegrond, Ubali, SA Garden Furniture en House of Chess.

LEES: Community calls for traffic-calming measures in Lynnwood Ridge

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button