Umalusi waarsku teen uitsluiting van matrikulante
Met die matriekeksamens wat nader kom, bly die boodskap duidelik: leerders moet toegelaat word om hul eksamens te skryf, onreëlmatighede moet aangemeld word en gemeenskappe moet saamwerk om die veiligheid en integriteit van die proses te beskerm.
Die opvoedkundige regulatoriese organisasie Umalusi het die gereedheid bevestig van alle rolspelers en prosesse om die 2026-jaareindeksamens suksesvol en doeltreffend af te skop, maar waarsku dat die integriteit van die eksamenproses beskerm moet word.
Sowat 1.08 miljoen kandidate sal by 9 183 eksamensentrums hul matriekvraestelle skryf.
Die gehalteversekeringsliggaam waarsku egter dat onreëlmatighede, veiligheidsrisiko’s en die onregmatige uitsluiting van leerders die geloofwaardigheid van die eksamenproses kan bedreig.
Tydens die bekendmaking van sy ouditbevindinge oor die rolspelers en prosesse het Umalusi beklemtoon dat alle kandidate ’n regverdige geleentheid moet kry om hul eksamens af te lê.
Die bestuurshoof, dr. Mafu Rakometsi, het veral standpunt ingeneem teen poortwagtery en ouers en voogde versoek om gevalle waar skoolhoofde of onderwysers geregistreerde leerders verhinder om sekere vakke te skryf, onmiddellik by die toepaslike owerhede aan te meld.
Hy het benadruk die eksamenstelsel se geloofwaardigheid berus op die beginsel dat elke geregistreerde kandidaat ’n billike kans moet kry om te presteer.
“Die stelsel is net so sterk soos sy swakste skakel. Een individu kan die hele eksamen vir alle leerders in gevaar stel,” lui sy waarskuwing oor die moontlike gevolge van onreëlmatighede.
Veiligheid is vir hom nog ’n belangrike prioriteit gedurende die eksamentydperk.
Met plaaslike regeringsverkiesings wat op 4 November met die eksamenperiode saamval, het hy gewaarsku dat politieke aktiwiteite en gemeenskapsprotes die gladde verloop van eksamens kan ontwrig.
Hy het ’n beroep op gemeenskappe, politieke en gemeenskapsleiers, skoolhoofde, onderwysers en ouers gedoen om ontwrigting by skole wat as eksamensentrums of stemlokale gebruik word, tot die minimum te beperk.
Rakometsi het ook die belangrikheid van waaksaamheid onderstreep. Hy het gewaarsku ouers moet nie veiligheidsrisiko’s ligtelik opneem nie, veral op dae naby die verkiesing en op die verkiesingsdag self.
“Die beskerming van leerders en die handhawing van ’n veilige omgewing vereis samewerking tussen skole, ouers en die breër gemeenskap,” glo hy.
Umalusi se oudit het bevind dat die eksamenstelsel oor die algemeen gereed is. Die oudit, wat van 24 Augustus tot 30 September plaasgevind het, het onder meer kandidaatregistrasie, personeel by eksamen- en nasienentrums, moderering van vraestelle, sekuriteitsmaatreëls en die vaslegging van punte ondersoek.
Altesaam 283 vakvraestelle is ekstern gemodereer en goedgekeur. Die liggaam het ook bevestig dat die puntevasleggingstelsels aan sy vereistes voldoen.
Elke assesseringsliggaam sal ’n dubbelkontroleproses gebruik, waar een amptenaar punte vaslê en ’n ander dit verifieer.
Rakometsi het aangedui dat voldoende nasienkapasiteit oor die algemeen beskikbaar is, hoewel die Departement van Basiese Onderwys tekorte aan nasieners vir Afrikaans Huistaal, Engels Huistaal en Geskiedenis aangemeld het.
Hy het verduidelik hierdie tekortkominge en die departement se plan om vroeër met nasienwerk te begin en die proses in fases te hanteer, sal gemonitor word.
Hy het ook sy kommer oor herhalende onreëlmatighede met praktiese assesseringstake en interne assesserings by sekere kolleges uitgespreek.
Wat die 2025-matriekvraestelle betref, het die finale verslag van die Nasionale Ondersoektaakspan bevind dat die verbreking van sekuriteit tot 40 kandidate in Pretoria beperk was.
Die ondersoek het betrekking gehad op vraestelle in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Engels Huistaal. Die departement se dissiplinêre prosesse is steeds aan die gang om die aangeleentheid en die skuldiges aan te spreek, het hy bevestig.
Ná afloop van die eksamens sal die uitslae gestandaardiseer word voordat die uitvoerende komitee van Umalusi oor die vrystelling daarvan besluit.
Die besluit oor die vrystelling van die 2026-eksamenuitslae sal op 8 Januarie 2027 tydens ’n mediakonferensie deur Umalusi aangekondig word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel