AdvertorialSchools

Die Hoërskool Menlopark is nr. 1 in Gauteng

Die Hoërskool Menlopark se leuse, Exselsa Petamus – streef die hoogste na, vind weerklank in die uitslae van die matriekgroep van 2022 wat 100% daarin geslaag het om die rekordboeke te herskryf.

Die 2022-matriekuitslae beklemtoon die bydrae wat Die Hoërskool Menlopark sedert 1963 tot Afrikaanse onderrig lewer en besorg vanjaar die boonste sport op die akademiese ranglys in Gauteng aan dié skool.

Die Hoërskool Menlopark het sy plek as baken van uitnemendheid sestig jaar gelede op die hoek van Atterbury- en Lynnwoodweg ingeneem. Op die vriendelike Menlo-bodem bevind jy jouself in die hart van ʼn top akademiese instelling waar gelukkige leerders jou begroet. Die Parkies se netjiese voorkoms is opvallend en ʼn mens kom gou agter dat daar ʼn verband tussen die leerders se glimlagte en akademiese sukses is. Tog strek die skool se invloed verder as akademiese ranglyste en dien hulle sport- en kultuurprestasies as boekstawing hiervan.

Menlo se eersteklas reputasie vier vanjaar sy sestigste verjaarsdag en die matrieks van 2022 het die eerste geskenk afgelewer. Wanneer die geskenk oopgemaak word, word die volgende duidelik: die groep van 330 leerders het 964 onderskeidings behaal – 2,9 onderskeidings per leerder – en ʼn graadgemiddeld van 73.9% aangeteken.

Bykans ʼn derde van die matriekgroep – 109 leerders uit 330 – het ʼn A-gemiddeld behaal. In die land se huidige sosio-ekonomiese klimaat waar leerders se prestasie in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe gereeld onder die loep kom, is Menlopark sonder gelyke. Die skool gaan uit sy pad om Wiskunde toeganklik vir alle leerders te maak en daarom is dit nie net die aantal wiskundeonderskeidings wat uitstaan nie, maar ook die aantal leerders wat Wiskunde neem (255).

Die Parkies se welslae in die FW-klas is eweneens uitstekend: Uit ʼn totaal van 155 leerders wat FW neem, het 58 onderskeidings behaal en is die FW-gemiddeld ʼn allemintige 72,8%. Ook vir aspirantrekeningkundiges is daar geen ander heenkome as Menlopark nie – met ʼn vakgemiddeld van 77,8% in Rekeningkunde is die weg vir suksesvolle studie in hierdie rigting gebaan.

 

Menlopark het oor die jare daarin geslaag om ʼn indrukwekkende CV op te bou, maar steeds staan die skool nederig teenoor dekades se insette van onderwysers, leerders, hulle ouers én die Menlo-gemeenskap.

Die entoesiasme waarmee die Klas van ‘22 matriek aangepak het, laat ʼn onuitwisbare spoor op Menlo-bodem. Die groep se uitslae span die kroon op twaalf jaar se werk en bou voort op die prestasies van hulle voorgangers. Boonop is die opwaartse trajek van hierdie leerkurwe ʼn klinkende bewys dat die skool se leuse – om die hoogste na te streef – uitgeleef word.

Op die hoek van Atterbury- en Lynnwoodweg vind jy ʼn gewone skool met buitengewoon toegewyde leerders en personeel. Hierdie skool is Die Hoërskool Menlopark waar 100% nie net ʼn slaagsyfer is nie – dit is die Menlo-manier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button