LettersOpinion

‘n Hond en ‘n kind is nie dieselfde

Ek is nie ’n hondehater nie, maar was verbaas oor ’n onlangse advertensie, “In liefdevolle herinnering”, wat onlangs in die Rekord verskyn het. In hierdie “memoriam” word ’n hond gelykgestel aan ’n geliefde (familielid) wat aan die dood afgestaan is. Die blaam word op die “moordenaars” geplaas, terwyl die eienaars ruiterlik erken dat hulle die …

Ek is nie ’n hondehater nie, maar was verbaas oor ’n onlangse advertensie, “In liefdevolle herinnering”, wat onlangs in die Rekord verskyn het.

In hierdie “memoriam” word ’n hond gelykgestel aan ’n geliefde (familielid) wat aan die dood afgestaan is. Die blaam word op die “moordenaars” geplaas, terwyl die eienaars ruiterlik erken dat hulle die reëls van die park oortree het, naamlik om die hond sonder ’n leiband te laat rondhardloop.

Volgens die beskrywing, kan ek aflei dat die perseel ter sprake, dié van die Rietondalepark is.

Elke honde-eienaar dink klaarblyklik sy hond is ’n mens. ’n Hond dink nie soos ’n mens nie en sy reaksies is onvoorspelbaar in sekere omstandighede, al is hy hoe slim, goedgeaard en opgelei.

Ons gaan stap gereeld in die parkie met ons kleinkinders. Vir ’n kind van tweejaar (of ’n kleiner hond) is ’n Deense hond ’n reusagtige monster as hy op hom afgepeil kom, al het die hond die beste “bedoelings”.

Die kind gil, die hond skrik, en byt na die kind omdat hy ook skrik. Hoeveel kinders is al hierdeur vermink? Is ’n kind se lewe nie meer werd as ’n hond se lewe nie?

Ons was dankbaar om die nuwe regulasies opgeplak te sien: geen honde sonder leibande! Maar mense se volgehoue verontagsaming van die reël laat ons huiwer om daar te te gaan stap.

Ek weet nie waarmee die Deense hond “doogesteek” is nie. Ek praat ook nie ’n koelbloedige aksie goed nie. Dit is egter nie vir my snaaks dat mense deesdae ’n ‘wapen’ met hulle sal saamdra as hulle goedertrou gaan stap nie.

’n Mens kan geen mens (of hond) vertrou wat naby jou kom nie, en moet paraat wees vir enige iets wat kan gebeur. Die “verdediger” se hond (of kind of kleinkind) is vir hulle net so belangrik soos wat die die bandelose hond vir sy eienaars is.

Die hele tragedie kon vermy gewees het as die eienaars van die Deense hond net hul kant gebring en die reëls gehoorsaam het. Hulle is nie die enigste mense met regte nie.

Gelukkig is dit net ’n hond wat dood is. Dit kon ’n kind gewees het. My kosbare kleinkind.

Back to top button