In 'n terugblik van wat 20 jaar se demokrasie opgelewer het, het die ANC in die eerste 15 jaar van sy bewind baie dinge reggekry, tog is daar ernstige probleme waaroor daar geswyg word.
Dit is die mening van Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group. Roodt was een van die gaste by die Voortrekkermonument waar staatspresident Jacob Zuma 20 jaar se prestasies op die vooraand van Vryheidsdagvieringe in oënskou geneem het.
“Die geleentheid was grootliks 'n beulblasery van die regering. In baie gevalle is die beulblasery geregverdig, maar in ander nie. Die realiteit is dat die ANC in veral die eerste 15 jaar van sy bewind baie dinge reggekry het, maar baie probleme onder die mat gevee het. Belangrike probleme wat in die laaste vyf jaar van ANC bewind opgeduik het, word nie aangespreek nie,” het Roodt na afloop van die vergadering gesê.
“Die belangrikste is ekonomiese groei. ’n Ander is dat die arbeid-eenheidskoste besig is om teen 'n onaanvaarbare koers toe te neem. Arbeid kos al hoe meer en die prys wat ons daarvoor betaal, is hoë vlakke van werkloosheid. Die sogenaamde werkskepping wat die afgelope vyf jaar plaasgevind het, was hoofsaaklik in die staatsdiens. Die staatsdiens was die grootste enkele remblok vir ekonomiese groei in Suid-Afrika, en is besig om weens sy eie gewig ineen te stort. Met 'die staatsdiens' word ook plaaslike owerhede soos munisipaliteite bedoel,” het Roodt gesê.
Hy het as voorbeeld genoem dat 95 % van die plaaslike owerhede en selfs 'n aantal provinsiale owerhede gekwalifiseerde oudits ontvang het.
“Die Departement van Onderwys is waarskynlik die enkel grootste vermorser van geld in Suid-Afrika. As voorbeeld kan genoem word dat Mosambiek onlangs vir Suid-Afrika op gr. 3-vlak verbygesteek het met betrekking tot algemene en wiskundige geletterdheid, dit in weerwil daarvan dat hulle 'n derde van die bedrag op 'n kind bestee as wat Suid Afrika bestee. Onderwys is 'n tydbom, en 'n ramp vir Suid-Afrika,” het hy gesê.
Met verwysing na staatsbeheerde organisasies, het Roodt die Suid Afrikaanse Lugdiens as 'n parasitiese instelling beskryf.
“Eskom weer, is een van die grootste remmende faktore in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Eskom kos die Suid Afrikaanse ekonomie R350 miljard rand per jaar. Die ekonomie sou tien present groter gewees het as dit nie vir Eskom was nie. Dit is waar dat baie mense nou toegang tot elektrisiteit en water het; dinge wat in die verlede nie daar was nie. Die feit is egter dat Suid-Afrika besig om Suid-Sahara se groeikoers af te trek. Suid-Afrika, wat die grootste ekonomie in Afrika gehad het, is besig om sy relatiewe posisie te verloor,” het hy gesê.
Oor ekonomiese billikheid en bemagtiging het Roodt gesê dat alhoewel daar geen probleem met die konsep is nie die regering se bevoorregting van kaders probleme skep.
“Al wat ons gaan kry in Suid-Afrika is 'n aantal gesigte – dieselfde gesigte – wat op 'n klomp rade dien. Dit is nie bemagtiging nie. Daar is net twee maniere waarop bemagtiging kan werk, jy moet die mense vaardighede leer wat hulle kan aanwend en hulle toegang tot werksgeleenthede gee. Dit beteken dat ons die onderwys in Suid-Afrika dramaties moet verbeter. Ons onderwys is van die swakste ter wêreld. Daarby maak arbeidswetgewing dit moeilik om mense in diens te neem. Bemagtiging moenie by raadsale en direkteure van groot maatskappye begin nie – werklike bemagtiging begin by swart en bruin vroue.’’
Hy het ook gesê dat hy teen swart ekonomiese bemagtiging gekant is. “Ek is veral gekant teen die wyse waarop dit toegepas word. Wat ons nodig het, is nie swart bemagtiging nie, slegs bemagtiging. Bemagtiging vind slegs plaas deur ekonomiese groei en deur mense wat vaardighede en toegang tot werksgeleenthede het,” het Roodt gesê.
