Van poskantoor tot pandok
Hentie Nortjé van Lynnwood skryf: Om te praat van die poskantoor is net so erg as om te praat van jou broer in die tronk (nie daardie broer wat vir parool kwalifiseer nie). Ek het gister amper aan my muesli verstik toe ek tydens my ontbyt op die radio hoor dat die minster van telekommunikasie …

Hentie Nortjé van Lynnwood skryf:
Om te praat van die poskantoor is net so erg as om te praat van jou broer in die tronk (nie daardie broer wat vir parool kwalifiseer nie).
Ek het gister amper aan my muesli verstik toe ek tydens my ontbyt op die radio hoor dat die minster van telekommunikasie en posdienste, dr. Siyabonga Cwele, bevestig het dat die sesde poskantoorstaking sedert 2011, moontlik hierdie week nog uitgeroep mag word.
Dit blyk asof sekere vakbonde en werknemers net nie genoeg van stakings kan kry nie, terwyl individue, studente, klein besighede en ook die Suid-Afrikaanse ekonomie, noustrop trek.
As daar ooit ’n tyd was dat ek terug verlang het na die ou poskoetsstelsel, dan is dit nou, maar die positiewe ouens onder ons glo egter dat dit nou die regte tyd is om aandele in genoteerde koeriermaatskappye aan te skaf.
Ek voel tog ’n bietjie jammer vir die geagte minister, aangesien sy brief aan die kabinet, met al sy probleme, skynbaar in 2014 se posstaking verlore geraak het, terwyl die ganse Suid-Afrika tans eis dat die president hom summier as minister moet pos.
