
Die redakeur,
Rekord (Ooste)
Met verwysing na u 5 Februarie 2016 uitgawe aangaande die metro se “Fifth Clean Audit” op bladsy 3, lyk dit vir my asof iemand die Pretoria-gemeenskap/eiendomsbelastingbetalers, met die Rekord as spreekbuis, in Engels, effens om die bos probeer lei?
Ek is nie so seker of ‘n vyfde “ongekwalifiseerde” ouditverslag (soos die berig probeer sê) werklik prysenswaardig is nie. In teendeel in my opinie. Die feit dat die syfers finansieel en volgens ouditvoorskrifte dalk tot op die sent korrelleer, impliseer werklik nie dat die detail korrek berekende verliese aanvaarbaar is nie. ‘Kommernisse’ in ‘n ouditverslag, (selfs al is die syferwerk presies korrek), behoort in my opinie ook indringend aangespreek te word.
In n politieke magstryd tussen die groter politieke partye in stadsrade, en in metros, is dit telkens die derde of vierde grootste ‘kwalitatiewe’ politieke partye wat wel die werklike kwalitatiewe feite op die punte van hul vingers het, sonder om deur die hedendaagse politieke magstryd verblind te word.
Ek weet ook nie of die effense mistasting in die berig, oor die oudit in Rekord van 5 Februarie, by die metrowoordvoerders, of by Rekord-verslaggewers ontstaan het nie. Ek was nie in detail daarby betrokke nie. As ‘n ingenieur lees ek slegs maar net die Rekord, en soms wonder ek oor die insig en die diepte van wat daar geskryf staan? In die berig verontskuldig die metro homself aanhoudend herhaaldelik, sonder om enige substansie daaraan te rapporteer. Dit is en bly duidelik slegs maar ‘n baie bewerige verontskuldiging vir iets klaarblyklik vir almal onbegryplik.
Tree gerus met VF-Plus-raadslid, Awie Erasmus, aangaande die werklike stand van finansiële en ander sake in die metro in verbinding, om so ‘n beter en gebalanseerde perspektief (soos hieronder uiteengesit) van die meer komplekse situasies wat in die stadsraad heers, te kan verkry.
Ek gee toe. Almal probeer hul absolute bes, maar ooglopende aanhoudende herhalende verontskuldigings gaan absoluut niks help nie. Plaas eerder die feite, soos hieronder deur VF-Plus raadslid Erasmus duidelik uiteengesit. Dan weet Jan Publiek presies waar ons almal met ons metro staan?
Ek beveel ook ten sterkste en groot asseblief aan dat dit raadsaam mag wees indien die Rekord-verslaggewer (of verslaggeefster) verkieslik ‘n finansiële kundige met agtergrond van inkomste-uitgawe-state en die nodige PFMA en MFMA ouditvereistes sal wees. Indien dit nie die geval kan wees nie, gaan daar net dalk verdere misverstande en/of wanvoorstellings ontstaan, wat die akkuraatheid van verslaggewing ernstig nadelig kan beïnvloed, en selfs onwetend tot misleiding kan lei.
Die uwe,
Johan van Drimmelen.
