
Dis tyd vir die stadsraad om sy sokkies op te trek.
Dit was ons lot om binne ’n paar weke drie keer besoek aan Tshwane se kantoor vir registrasie van voertuiglisensies te Akasia te bring. Wat ’n traumatiese ervaring was dit nie!
Ons het vir ure in ’n tou in die warm son gestaan en wag om bedien te word. Die geriewe waar mense moet wag om tot die kantoor toegelaat te word, laat veel te wense oor.
Die stelsel waarvolgens gewerk word, is heeltemal ondoeltreffend en die personeel word nie goed benut om die toenemende aantal lede van die publiek te bedien nie.
Ek moet meld dat die diens heel vriendelik en bekwaam was toe ons uiteindelik by ’n assistent uitkom.
Enigiemand met ’n bietjie bestuursondervinding sou duidelik al die foute kon uitwys, maar daar was geen teken van ’n bestuurder in sig nie.
Mens kon die hele tyd hoor hoe mense mor en hul misnoeë te kenne gee, maar almal moes maar uithou omdat hulle uitgelewer is.
EM Dreyer
