Veertjie vir Waverley
Ek en my wederhelfte het onlangs van die ooste van Pretoria na Waverley verhuis. Ons kan nie uitgepraat raak van hoe vriendelik, hulpvaardig en simpatiek die inwoners ons twee bejaardes hier behandel nie. Ons is onlangs na die plaaslike Wimpy om koffie te drink. Toe ons vir die rekening vra, deel die kelner ons mee …
Ek en my wederhelfte het onlangs van die ooste van Pretoria na Waverley verhuis.
Ons kan nie uitgepraat raak van hoe vriendelik, hulpvaardig en simpatiek die inwoners ons twee bejaardes hier behandel nie.
Ons is onlangs na die plaaslike Wimpy om koffie te drink. Toe ons vir die rekening vra, deel die kelner ons mee dat iemand anders reeds die rekening vir ons betaal het.
Toe ons voor die Wimpy stilhou, het my vrou met haar kierie uitgeklim om die kegel voor die staanplek vir gestremdes te verwyder.
Tot haar verbasing kom daar twee dames van so om en by 18 jaar oud soos twee ribbokke aangehardloop om te kom help. Baie dankie julle. Dit word opreg waardeer.
Ek wil ook net graag meld dat die predikante hier by die NG Waverley-Oos kerk almal pakke klere kerk toe aantrek en nie jeans en geruite kortmou-hemde nie.
Verlede Sondag (20 Maart) het die gasprediker , Dr. Dawid de Villiers , ’n swart toga gedra.
Die gemeentelede is uiters vriendelik en groet jou baie hartlik . Waar ek vandaan kom, moes die predikant soms die gemeentelede vra om asseblief die mense langs hulle te groet .
Die omgewing het die mooiste bome in die strate. Hier kan ’n mens nog vryelik asem haal.
Theo le Roux
