LettersOpinion

Christene by ‘n Kruispad?

Redakteur Brief aan Rekord Darwin of Christus: Christene by ‘n Kruispad? Gedurende Paasnaweek het die vraag moontlik onwillekeurig by baie mense opgekom: Het Christene by ‘n ideologiese kruispad aangekom waar hulle ‘n keuse sal moet maak tussen die Genesis Skeppingsrekord en die ‘Spontane Generasie’ of ‘Evolusie Teorie’ van die voorstedelike godsdienskultus van die Darwinisme? Evangeliese …

Redakteur

Brief aan Rekord

Darwin of Christus: Christene by ‘n Kruispad?

Gedurende Paasnaweek het die vraag moontlik onwillekeurig by baie mense opgekom: Het Christene by ‘n ideologiese kruispad aangekom waar hulle ‘n keuse sal moet maak tussen die Genesis Skeppingsrekord en die ‘Spontane Generasie’ of ‘Evolusie Teorie’ van die voorstedelike godsdienskultus van die Darwinisme?

Evangeliese Christene wonder opreg hoeveel geloofwaardigheid die Darwinisme se evolusie- teorie nog werklik oor beskik wanneer mens in gedagte hou dat die Darwinisme en evolusioniste ons probeer vertel dat (i) voëls vanuit dinousourusse ontwikkel het, terwyl die Bybel duidelik leer dat (ii) voëls vóór ‘dinousourusse’ (diere) geskep is. Wie lieg vir ons hier … die evolusioniste of God?

Daarnenewens leer Openbaring ons dat daar ‘n nuwe hemel en nuwe aarde kom en dat Christene hulle hoop ideologies met geloofsvertroue daarop mag plaas. Indien die evolusioniste (en Christene wat in ‘evolusie’ glo) reg is oor die tydlyn wat hulle heg aan die skepping van die eerste hemel (die huidige heelal) en eerste aarde (huidige aarde), gaan die nuwe hemel en nuwe aarde (by implikasie) dan ook 13.7 biljoen jaar (soos met die huidige heelal) en 4.6 biljoen jaar (soos met die huidige aarde) neem om geskep te word? Indien wel, kan diesulke Christene nog met ‘n Wederkomsverwagting in hulle hart hul maar begin regmaak vir ‘n lang wag, wat eintlik dui op die verspotte idee van spontane en lukrake ‘evolusie’ uit niks.

Openbaring 21:1 ‘En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.’

Wanneer ateïste, agnostici, sekulêr-humaniste, sommige ‘postmoderniste’ en heidene oor die algemeen in die ‘evolusie teorie’ wil glo, is dit heeltemal verstaanbaar, want dit is wat mens van hulle verwag. Maar wanneer sogenaamde belydende Christene in ‘evolusie’ wil glo, slaan dit mens heeltemal dronk, aangesien selfs ‘n terloopse besoek aan die Bybel mens byna dadelik oortuig dat daar geen manier is waarop die Bybel se Genesis skeppingsrekord (of die verwagte geprofeteerde gebeure in Openbaring) ooit ideologies of selfs wetenskaplik met die Darwinisme se ‘spontane generasie’ (‘evolusie’) benadering tot die oorspronge (en uiteindelike lotsbestemming) van alle dinge versoen kan word nie.

In die lig van die eksponensiële toename in wêreld-terreur en die algemene verkrummeling van Judeo-Christelike waardes in die samelewing met sy siek, hiperpolities-korrekte verdraagsaamheid met morele perversiteit en regerings- en sake-korrupsie, het Christene by ‘n ideologiese kruispad aangekom waar hul ‘n harde, kritiese besluit sal moet begin neem: Darwin of Christus?

Met dank,

Die uwe,

Piet Stassen

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button