LettersOpinion

Die Bybel is nie wetenskap nie

Dit is uiters jammer dat Piet Stassen (Rekord van 22 April) oor sy geloof wil twyfel as hy wetenskaplike bevindings sien. Die Bybel is nie ’n wetenskaphandboek nie. Die Bybel maak dikwels deur gelykenisse vir ons groot waarhede bekend – reeds omdat die werklike skepping so ver bo ons begrip en denke is. Die Bybel …

Dit is uiters jammer dat Piet Stassen (Rekord van 22 April) oor sy geloof wil twyfel as hy wetenskaplike bevindings sien. Die Bybel is nie ’n wetenskaphandboek nie. Die Bybel maak dikwels deur gelykenisse vir ons groot waarhede bekend – reeds omdat die werklike skepping so ver bo ons begrip en denke is.

Die Bybel verkondig vir ons groot geestelike waardes op ’n manier wat ons kan verstaan en vir ons redding nodig is. Wie sou dit verstaan as Genesis I deur tien gevorderde wiskunde, fisika en chemie boeke vervang was om die skepping te verduidelik?

Ons het maar baie beperkte insig in die wonderlike skepping, maar dit is duidelik dat die skepping baie akkuraat bestuur is.

Ewolusie is ’n goue draad wat deur die studie van biologie loop. Volgens die wetenskap is daar goeie rede om te glo dat lewe net eenkeer geskep is. Dit is wonderlik om te dink dat die Goeie Skepper gesorg het dat my en jou voorgeslagte elke keer ’n nageslag kon nalaat oor ’n tydperk van ongeveer vier-duisend-miljoen jaar.

Die aarde het groot katastrofes ondergaan. Ons weet van vyf geleenthede waar meer as 75% van al die spesies op aarde uitgesterf het. Een keer – teen die einde van die Perm-tydperk het ongeveer 96% van al die spesies op die aarde uitgesterf. Hoe wonderbaarlik fyn moes dit nie beheer word dat toestande op aarde geskep is wat 96% spesies elimineer maar nie die ander 4% nie?

Nog wonderliker is dit dat die regte spesies elke keer oorleef het. Dat lewe nie weer teruggesink het tot die oorheersend primitiewe nie, maar dat dit elke keer na ’n hoër vlak gelei is. So word die oorheersing van reptiele byvoorbeeld deur die soogdiere vervang.

Dit is vir die Bybel slegs nodig om vir ons te sê dat GOD die hemel en die aarde en alles daarin gemaak het, nie hoe Hy dit gemaak het nie. Ons Christene glo tog ook in ’n hiernamaals. Ons weet nie watter vereistes vir geestelike lewe nodig is nie. Of hulle gekoppel is aan ruimte en tyd soos ons nie en hoe en waar die nuwe aarde sal wees nie.

Ons het heeltemal te min insig en daarom kan ons net maar soos kinders glo. Eendag sal ons moontlik toegelaat word om meer te begryp.

Gelowige wetenskaplike, Dr H H Gouse

Pretoria

Dr H H Gouse

Posbus 14331

Sinoville

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button