
Geagte Rekord
Ek skryf hierdie brief as ’n waarskuwing vir alle mense in die Moot.
Wees paraat en oplettend.
My vriendin bly in Micheal Brinkstraat by die verkeerslig van Olympus-panelkloppers, op die hoek van Japonika.
So teen 11:00 gisteroggend sien ons ’n nuwe donkergrys Polo met sy enjinkap oop langs die pad. Daar was ook ’n bakkie wat verdag gelyk het en vyf tot ses mans wat die Polo aan die gang probeer kry. Hulle was heeldag besig – omtrent tot 17:00. Dit het gelyk of hulle sukkel om die Polo aan die gang te kry.
Later het hulle die Polo ’n ent in die straat afgestoot, afdraande. Toe stoot hulle die Polo weer terug, opdraande. Later het hulle gery, maar enkele minute later was die Polo weer terug op dieselfde plek, enjinkap oop.
Dit was baie verdag. Van die mans het by die bushalte aan die oorkant van die straat gesit. Ons vermoed hulle het dalk huise of mense dopgehou. Wees maar versigtig mense. Eerder versigtig as jammer.
Vriendelike groete,
Melinda van Heerden
