
Kan iemand asseblief vir my vertel wat in die wêreld rondom ons aangaan?
Ons sit midde-in die ergste droogte in dekades.
Gister is aangekondig dat Pretoria se waterbeperkings nou sodanig is dat jy nie mag tuin natmaak tussen 06:00 en 18:00 nie.
Jy mag nie ’n motor met ’n tuinslang was nie en jy moet toestemming vra om jou swembad vol te maak (met watter doel – dit gaan net weer verdamp in die hitte!).
En ons moet almal ons waterverbruik met 15% besnoei anders kom erger waterbeperkings.
In die parkie in Pierneefstraat tussen 31e en 32e laan vanoggend sproei die sproeiers wyd en syd teen 07:30.
Hoe werk dit?
Wat het geword van “lead by example”?
Hoe verduidelik die metro dit? Ek sal baie graag by ons nuwe burgemeester wil weet, die een waarvoor ons ure in toue gestaan het op 3 Augustus.
Dis die man wat ons so gehoop het dienslewering sal verbeter.
Wat is nou eintlik die plan?
Gisteraand hoor ons dat die Tshwane-metro daagliks miljoene liters water vermors.
Die verkwisting weens stukkende pype en swak infrastruktuur is genoeg om 30 of wat Olimpiese swembaddens vol te maak.
Wat gaan hulle hieraan doen?
En wat van die besparing van elektrisiteit?
Die straatligte in Gordonweg in Colbyn tussen Kerkstraat (Stanza Bopape) en Soutpansbergweg is merendeels dood in die aande, maar vanoggend skyn hulle helder!
Het ek ‘n “reality check” nodig of kan iemand van die metro hierop antwoord en dringend iets pro-aktief doen?
Mev A.S. Nel
