Opinion

OPINIE: Sit die skelname by Golgota neer

Wat sal nie in ons huise, verhoudinge en land nie gebeur as ons op die positiewe in mekaar begin fokus en die skelname wat so baiemaal by ons leef, by die kruis van Golgota gaan los nie?

Dit bly darem vreemd hoe maklik ons op die negatiewe van ander mense fokus.

Net so vreemd is hoe die hoor van hierdie mense se naam baiekeer eerste die negatiewe herinneringe oproep.

Dink maar aan Petrus in die Bybel. Wanneer ons sy naam hoor dink ons onmiddellik aan hoe hy die Heer verloën het.

Só sê die naam Judas vir ons ‘verraaier’.

’n Goeie voorbeeld is dalk dié van Tomas.

Alhoewel hy in Johannes 20:28 vir Jesus geproklameer het as “my Heer en my God” is dit nie hoe mense aan hom dink nie.

Hulle onthou nie sy drie jaar saam met Jesus nie.

Hulle onthou ook nie dat hy die een is wat in Johannes 11:16 die dissipels aangemoedig het om saam met Jesus na Lasarus te gaan nie.

Hulle onthou net die keer dat hy getwyfel het aan Jesus se opstanding. Hy is vir baie mense net die ‘ongelowige Tomas.’

Dit gebeur so maklik.

Ons assosieer mense en hulle name net met ’n slegte ding wat ons van hulle onthou.

Ons vergeet van al hulle goeie eienskappe en onthou daardie een minder goeie ding van hulle. Die volgende is dan te verwagte.

Die een slegte ding wat tussen mense gebeur kleur ’n verhouding so dat dit al die ander goeie goed oorskadu.

Die Here werk so anders met mense. Miskien is dit waarom hy soveel maal mense se name verander het.

Hy hernoem Abram na Abraham (vader van vele) en Simon word Petrus (die rots). Saggeus die ‘tollenaar’ word in Jesus se mond ‘kind van Abraham’ (Lukas 19:9).

Miskien is die mooiste sy woorde in Genesis 35:10: “Jy is Jakob, maar jy sal nie langer Jakob (bedrieër) genoem word nie. Jou naam sal voortaan Israel (iemand wat God gesien het) wees.”

Wat sal nie in ons huise, verhoudinge en land nie gebeur as ons op die positiewe in mekaar begin fokus en die skelname wat so baiemaal by ons leef, by die kruis van Golgota gaan los nie?

Wat sal nie gebeur wanneer ons ander, met al hulle gebreke, ons broer, suster, en mede kind-van-die-Heer noem?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button