Opinion

OPINIE: Wie is hierdie Jesus dan?

Wat is dit in Jesus wat toe en nogsteeds so uitwerking op mense het?

’n Vriend praat van Jesus as ’n mensmagneet.

Iets in Hom het mense van al die hoeke van die samelewing na Hom toe getrek. Markus vertel dat selfs wanneer Hy na ’n afgeleë wegkruipplek gegaan het, het baie mense vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Hom en sy dissipels daar aangekom.

Dieselfde Markus skryf in 6:2 dat daar by dit alles een ding is wat hulle nie kon verstaan nie: “Waar kom hy aan al hierdie dinge, en watter besondere gawe van wysheid het hy dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind?”

Hy is dan ’n timmerman, ’n seun van Maria en die broer van Jakobus, Josef, Judas en Simon?

Wat is dit in Jesus wat toe en nogsteeds so uitwerking op mense het?

’n Paar dinge.

Jesus het gewys hoe God is. Tussen al die wêreld se skewe prentjies van God, het Jesus Hom kom demonstreer. Hoe lyk God? Dalk lyk God in sommige opsigte regtig soos ’n magneet. Want soos die hoefyster-magnete, is ons God ’n God met oop arms.

Al jaag Jesus se volgelinge die kinders weg wat Jesus se aanraking soek, wys Jesus hoe God is wanneer Hy sy arms oopmaak en sê: Laat die kindertjies na my toe kom! Niemand was te sleg, arm, dom, kreupel of agterlik om in sy arms plek te kry nie.

Hy het ook vir mense hoop gebring. Hy gee vir die wat moeg en oorlaai is rus. Dorstiges kry by Hom water. Vir hulle wat moeg gesoek is het Hy nie die pad kom wys nie, maar kom word. Hy kon uitroep: “Ek het gekom sodat julle lewe en oorvloed kan hê.” Johannes 10:10

Maar Jesus is ook op ’n ander manier ’n magneet: Hy verander mense. As ’n speld nadergetrek word om aan ’n magneet te klou, gebeur die wonder dat die speld verander om ook magneties te word. Ja, as God ons deur sy liefde aantrek, verander Hy ons. Dan trek ons ook mense aan, nie deur ons persoonlikhede nie, maar deur die krag van Goddelike liefde wat in ons leef.

Wat ’n wonderlike gedagte – ons Jesusmagnete!

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button