OPINIE: Voel jy ook lus om te kla?
Ons kan nie kies of daar krake in ons lewe kom nie, maar ons kan kies of ons die lig deur die krake gaan laat skyn.

Ek skryf die stukkie vir myself om te lees as ek ooit weer lus sou voel om te kla.
Heratio Spafford was ’n baie suksesvolle regsman, maar toe steek die stormwinde op:
– In 1871 sterf sy vierjarige en enigste seun;
– In 1872 vernietig die groot Chicago-vuur die grootste deel van sy eiendomme;
– In 1873 stuur hy sy vrou en vier dogters met die boot, SS Ville du Havre, na Europa. Omdat hy baie werk gehad het was die plan dat hy later by hulle sou aansluit. Die skip sink egter en net sy vrou oorleef. Op die telegram wat hy van haar ontvang staan die enigste woorde, “SAVED ALONE …”
Hy gaan sluit by haar aan, maar voor hy kon terugkeer huis toe hoor hy dat al sy kantore afgebrand het en dat die assuransie weier om enigiets uit te betaal.
Hy en sy vrou het letterlik binne ’n paar jaar alles verloor.
Terwyl hy eendag sit en dink aan dit wat met hom gebeur het, begin hy ’n lied skryf wat later in verskillende tale dwarsoor die wêreld gesing sou word – Whatever, my Lord, You have taught me to say – It is well, it is well with my soul.
Dalk sal jy dit onmiddellik begin neurie as jy die Afrikaans hoor:
As vrede my pad deur die wêreld verlig,
as smarte my dreig te verniel,
dan antwoord ek vry, watter lot my ook tref:
dit is wel, dit is wel met my siel!
Hierdie verhaal bevestig weer dat ek en jy nie kan kies wat met ons gebeur nie, maar dat ons kan kies hoe ons daarop gaan reageer.
Ons kan nie kies of daar krake in ons lewe kom nie, maar ons kan kies of ons die lig deur die krake gaan laat skyn.
Ons kan wanneer die winde waai bitter, sinies en kwaad word óf soos Job uitroep: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer! Selfs nadat hierdie siekte my vel weggevreet het, sal ek nog lewe en God sien.” – (Job 19:25).
Dit is die taal van geloof!
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
