OPINIE: Moenie toor met God se woorde nie
Dalk het jy toe al ook gewonder oor die woord abrakadabra.
Onthou jy nog vir Martino, die bekende kulkunstenaar. Hy kon ’n appel onder ’n lap in druk en ’n kat te voorskyn bring (ek het baiekeer gewens hy wil wys hoe mens kool in kondensmelk kan verander) en geld agter iemand se ore uithaal. En dit alles met die swaai van ‘n stokkie en die toorwoord abrakadabra.
Dalk het jy toe al ook gewonder oor die woord abrakadabra.
Abrakadabra is volgens woordeboeke ‘n towerformule wat lank gelede op perkament geskryf en om die nek gedra is as afweermiddel teen koors en ander siektes. Dit het egter nog ’n dieper betekenis. In die Hebreeus (taal van die Bybel) beteken die woord abra God doen en kadabra kan vertaal word met woord. Baie rofweg kan ons hierdie vreemde woord vertaal met God doen deur die woord. God praat en dinge gebeur.
Nou die belangrike. Wat doen God met sy woord?
Daar is party mense wat letterlik toor met Sy woorde.
Hulle plaas net vuur en swael in God se mond. Hulle God praat net veroordeling en weersin oor sondaars. Hulle gunsteling voorspelling is dat Hy eendag op die wolke gaan kom om sy vyande en ongehoorsames uit wis. Wanneer God praat dreig Hy.
Ander weer laat God met sy woorde grense trek. Grense tussen hulle volk en ander volke, ryk en arm, verskilende kleure, hulle kerk en ander kerke. God se woorde word bakstene waarmee mure gebou word om die ander buite te hou.
Vir ’n derde groep is al God se woorde eendag-woorde. Eendag sal alles nuut word. Eendag sal Hy weer kom en alles beter maak. Eendag…
Intussen praat die Bybel so anders oor God se woorde. Genesis 1, die heel eerste bladsy van die Bybel sê dat wanneer Hy praat begin die son, maan en sterre skyn. Hy praat en bome en plante groei. Hy praat en die diereryk versier ons wêreld. Hy praat en mense kry lewe en mekaar. Hy praat en alles word mooi en reg. God praat Lig, Lag, Liefde en Lewe.
Hierdie God is die een wat ons moet verkondig.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
