Sport

HPC keur eerste 23 atlete vir nuwe atletiek akademie

Die eerste 23 gelukkige atlete wat deel sal wees van die Tuks Sportskool en die Tuks HPC se nuwe atletiek akademie, is verlede week by die HPC verwelkom. Hulle ontvang elkeen ’n beurs ter waarde van R150 000 en hulle word beskou as toekomstige Olimpiese sterre.

As dit van die Tuks Sportskool en Tukkies se High Performance Centre (HPC) afhang, sal Suid-Afrika in die toekoms elke vier jaar meer en meer medaljes op die atletiekbaan by die Olimpiese Spele verower.

In Julie vanjaar het Tukkies se High Performance Center (HPC) aangekondig dat hulle ’n opwindende nuwe program in samewerking met die Tuks Sportskool gaan begin waarin behoeftige atlete gehelp gaan word om deel te word van ’n nuwe atletiek-akademie. Die HPC en Tuks Sportskool het geld van ’n skenker ontvang om hierdie program te bestuur om spesifiek baanatlete te identifiseer en te ontwikkel.

Die eerste 23 jong atlete wat deel sal vorm van hierdie akademie is intussen geïdentifiseer en hulle sal in 2014 by die skool aanmeld om met die program te begin. Die atlete is verlede week saam met hulle ouers by die HPC verwelkom.

Toby Sutcliffe, hoof uitvoerende beampte het dit duidelik gemaak aan die atlete dat die geleentheid wat hulle kry iets is wat net eenkeer in ’n atleet se lewe gebeur. Hy het gesê dat die atlete op wetenskaplike wyse getoets en gekeur is en dat hulle oortuig is dat daar toekomstige Olimpiese medaljewenners onder die uitverkore atlete is.

Sutcliffe het egter aan die atlete en hul ouers verduidelik dat, hoewel hul leuse by die HPC is om met “genadelose eenvoud” te werk, beteken die “genadelose” deel juis dat geen tweede kanse aan enigiemand gegee sal word nie. Hy het gesê dat harde werk beslis beloon sal word, maar dat diegene wat nie hierdie geleentheid reg gebruik nie, geen genade moet verwag nie. Loodswaaiers, drinkers, rokers of dwelmgebruikers wat uitgevang word se beurse sal summier opgeskort word.

Die hoof van Tuks se Sportskool, Hettie de Villiers, het ook aan die atlete verduidelik dat hulle ’n sleutel tot ’n opwindende toekoms ontvang, maar dat die sukses van hul loopbane net van hulself sal afhang. Sy het ook beklemtoon dat die atlete se voortgesette deelname aan die program nie net van hul prestasies op die atletiekbaan afhang nie, maar ook van hul akademiese prestasie in die klas.

Die waarde van die beurse wat die 23 atlete ontvang is sowat R150 000 elk per jaar werd. Dit sluit in hul akkommodasie en skoolkursus by die TuksSport Skool, asook afrigting en blootstelling aan sportwetenskap, sportsielkunde en voeding by die HPC.

Die Tuks Sportskool en die HPC sal steeds voortgaan om nog talentvolle atlete landwyd te identifiseer, aangesien die program voorsiening maak om uiteindelik 100 atlete te akkommodeer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button