Veteraan sportman se veelsydigheid maak hom legendaries
Die 76-jarige Tommy Els van Pretoria kan vandag terugkyk op sy lewe as een van die veelsydigste sportmanne wat Suid-Afrika waarskynlik opgelewer het.
Die hoofkarakter in die bekroonde Hollywood film, Forrest Gump, se lewenspad het op vreemde wyses kronkelpaaie gemaak, sodat hy uiteindelik teenwoordig was by ’n horde geskiedkundige gebeure, terwyl hy skouer geskuur het met net baie bekende mense.
Luister ’n mens na die lewensverhaal van die 76-jarige Tommy Els van Pretoria, kan jy nie help om onwillekeurig aan dié film te dink nie. Els se lewensverhaal het soortgelyke draaie geloop, met dié verskil dat al sy ervarings met beroemde mense sportverwant is. Om alles te kroon was hy self op sy dag seker een van die land se veelsydigste sportmanne en ’n mens sal baie ver moet gaan om iemand te ontmoet wat meer sportsoorte op topvlak beoefen het én boonop provinsiale kleure in verskeie hiervan behaal het as Tommy Els.
Els het provinsiale kleure behaal in drie verskillende sportsoorte. Hy het as jong man vir die destydse Oostelike Provinsie (OP) en Transvaal basketbal gespeel, terwyl hy ook sy OP-kleure in atletiek as spiesgooier ontvang het. Hy het Transvaal ook verskeie kere as tweekamp- en driekampatleet verteenwoordig.
Behalwe vir hierdie sportsoorte het Els in sy kleurryke sportloopbaan ook in nog vyftien verskillende sportsoorte op top klubvlak meegeding.
As padatleet het hy verskeie kere Suid-Afrika se twee bekendste ultra marathons kafgedraf. Hy het tien keer die Comrades en drie keer die Twee Oseane voltooi. Die beroemde Ysterman driekamp-marathon het hy ses keer voltooi, drie keer as roeier en drie keer as swemmer (saam met hardloop en fietsry).
As oopwater swemmer het Els verskeie kere die Midmar myl kafgedraf en hy is vandag steeds ’n kranige swemmer. Om sy liefde vir water verder te bevredig het Els ook op klubvlak as waterpolo speler uitgeblink.
Op die krieketveld het Els op sy dag die beurt in ’n klubwedstryd in Port Elizabeth saam met die beroemde Graeme Pollock geopen en hy was ’n staatmaker klubspeler in sy jonger dae.
Sy interaksie met Pollock het egter nie op die krieketveld opgehou nie. Els het ook teen Graeme en Peter Pollock hokkie gespeel as jong man. Op die hokkieveld, waar hy ook uitgeblink het, het hy boonop paaie gekruis met die bekende krieketster, Colin Bland.
Sokker en rugby is nog twee sportsoorte waarin Els op klubvlak soms skouer geskuur het met beroemdes. Manne soos die Oos-Kaapse Springbok Bennet (PeeWee) Howe en Boet Ackermann tel onder die spelers wat hy in die vyftigerjare van die vorige eeu op die klubrugby velde van die Oos-Kaap ontmoet het.
Els speel deesdae nog gereeld gholf, ’n sport wat hy ook al langer as 40 jaar beoefen. Hy speel tans van ’n voorgee van 12. Weens ’n ernstige besering wat hy in ’n fietsry-ongeluk opgedoen het, het hy die meeste ander sportsoorte laat vaar, maar hy swem nog gereeld.
Hy was self ’n amateur bokser in sy jong dae, maar om alles te kroon het Els boonop ook die beroemde Rocky Marciano in Amerika ontmoet en toe hy New York in 1974 besoek het, het hy in Jack Dempsey se bekende restaurant gaan eet.
Els se sportprestasies hou egter nie op as deelnemer nie. As administrateur was hy ’n nasionale keurder, bestuurder en tegniese raadgewer in basketbal, terwyl hy gestremde basketbalspelers vir sewe jaar lank afgerig het.
Hoewel Els se lewensverhaal mag klink of hy byna voltyds aan sport deelgeneem het, het hy dit inderdaad in sy vrye tyd beoefen. Hy was vir baie jare betrokke in die drukkersbedryf . Deesdae hou hy hom besig as konsultant vir ’n sekuriteitsfirma. Hy skilder ook graag as hy nie op die gholfbaan is nie.
Els en sy vrou het drie kinders gehad, maar hul seun is op ’n jong ouderdom tragies oorlede. Hulle het twee dogters en is deesdae die trotse grootouers van vyf kleinkinders.
