Ligpunte, maar ook ramp vir Bulls in Pietersburg
Daar was goeie nuus én slegte nuus vir die Bulls ná Saterdag se opwarmingswedstryd teen die Stormers in Pietersburg, waarin verskeie staatmakers vir die eerste keer in ’n lang tyd weer rugby gespeel het.
Na die afgelope naweek se opwarmingswedstryd in Pietersburg teen die Stormers het die Vodacom Bulls se bestuur heelwat om aan te herkou totdat hulle ’n span kies vir vanjaar se eerste SuperRugby-wedstryd teen die Sharks op 15 Februarie.
Daar was goeie nuus en ligpunte, maar daar was ook ’n waarskynlike ramp as deel van die klipharde stryd in Pietersburg, wat uiteindelik deur die Stormers met 26-19 gewen is.
Die spel van manne soos Deon Stegmann, Arno Botha, Jan Serfontein en Louis Fouché was goeie nuus en die feit dat Francois Hougaard en Pierre Spies lus gelyk het vir rugby was ligpunte. So ook die spel van Frik Kirsten, Paul Willemse, Jacques du Plessis en William Small-Smith in die voorwedstryd teen die Leeus.
Selfs vir diegene wat opgewonde is oor Victor Matfield se terugkeer was daar goeie nuus, want hy het heel tuis gelyk op die veld in die sowat 25 minute wat hy gespeel het. Hy het ’n kritieke lynstaanbal op sy eie kwartlyn by die Stormers gesteel en ’n hele paar laagvatte ingekry, terwyl hy oor die algemeen by die tempo van die spel bygehou het .
Die ramp het egter die Bulls-kamp getref na sowat ’n kwartier se spel in die tweede helfte. Tot op daardie stadium was die jong Springbok-flank, Arno Botha, een van die Bulls se uitblinkers. Hy het die Kapenaars soms man alleen besig gehou en sy drie vroeg in die tweede helfte was ’n juweel, toe hy met ’n verdediger op sy rug bo-oor nog twee Stormers gedryf het om na ’n stormram-lopie van sowat 20m oor die doellyn te val. Kort daarna het hy egter na ’n losskrum bly sit en dit was gou duidelik dat iets ernstig skort.
Dit lyk of Botha se grootste vrees waar geword het, want hy is van die veld gehelp met ’n besering aan dieselfde knie wat hy in Junie verlede jaar in Nelspruit in die Springbok-trui teen Skotland beseer het. Dit het ook glad nie goed gelyk nie en op hierdie stadium word daar gevrees dat hy weer vir ses maande uit rugby kan wees. Dis ’n ramp vir die Bulls én vir die Bokke, want al het Schalk Burger en Siya Kolisi goeie rugby gespeel vir die Stormers, het Botha soos ’n seer vinger uitgestaan in die 55 minute wat hy op die veld was. Sy krag en werkverrigting teen ’n baie goeie Stormers-pak was wêreldklas.
Ook die spel van Deon Stegmann is iets waaroor die Bulls se ondersteuners opgewonde kan raak. Hy het in sy 30 minute op die veld amok gemaak by die afbreekpunte, maar toe is hy af met ’n klaarblyklike harde stamp teen die bo-been. Wat wel rede tot kommer behoort te wees in die Bulls-kamp is dat daar geen ordentlike plaasvervanger vir Stegmann is in hul groep nie. Dit is dus goed dat dr Jannie Botha nou voltyds in die Bulle se diens is as kopdokter en persoonlike raadgewer vir spelers. Dit kan beteken dat hy gebruik kan word om Shaun Adendorff reg te kry om sy rol as Stegmann se adjudant vanjaar met erns te kan aanpak.
Louis Fouché se spel op losskakel was een van die ligpunte en hy lyk gereed om die verantwoordelikheid in die nommer tien trui oor te neem. Dit lyk of hy baie meer selfvertroue het en sy skopvoet het ’n groot invloed op die wedstryd gehad. Hy het die vermoeë om teenstanders soms 80m ver terug te jaag met sy monsteragtige lynskoppe.
Oor die algemeen is daar nie te veel rede tot kommer vir die Bulls nie. Hulle het wel gesukkel in die vaste skrums, maar Ludeke en sy bestuur behoort nou die boodskap te gekry het dat Werner Kruger nie die mas op vaskopstut gaan opkom nie. Gelukkig het Frik Kirsten in die voorwedstryd gewys dat hy gereed is om sy enorme potensiaal te verwesenlik, terwyl Hencus van Wyk ook lus en reg lyk vir SuperRugby. Wors Greyling het beter geskrum op loskop, Marcel van der Merwe lyk beter as verlede seisoen en Morné Mellet sal ook eersdaags fiks wees.
Saterdag se wedstryde in Pietersburg het dus gewys daar is genoeg diepte in die Bulls se groep, behalwe ten opsigte van spesialis baljagters. As die Bulls se bestuur dus die skrumprobleme kan uitsorteer, behoort hulle vanjaar beslis weer kandidate te wees vir die uitspeelwedstryde.
