Bulls moet leer om balbesit te beskerm ná fiasko teen Chiefs
Die Chiefs van Nieu-Seeland het die Bulls Saterdagmiddag op Loftus Versfeld ‘n rugbyles geleer oor hoe om balbesit te respekteer toe hulle ‘n agterstand van 13 punte uitgewis het deur drie drieë in tien minute te druk vir ‘n gelykopuitslag van 34-elk.
’n Rugbyspan wat ’n voorsprong van dertien punte vir tien minute lank moet verdedig en dan drie drieë in daardie tydperk afstaan om uiteindelik gelukkig te wees om met 34-elk gelykop te eindig, het baie harde werk voor hulle as hulle teen Julie onder die voorlopers wil tel in die SupeRugby-reeks.
Dít is basies ’n kort opsomming van die Bulls se situasie in hierdie week waar hulle na Nieu-Seeland vertrek het om Saterdagoggend (SA tyd) teen die Hurricanes in Wellington te speel.
Die verdedigende kampioen uit Nieu-Seeland, die Chiefs, het die Bulls Saterdagmiddag op Loftus Versfeld ’n rugbyles geleer oor hoe om balbesit te respekteer.
Die Bulls se verdediging was tot dusver vanjaar een van hul sterkpunte, maar hulle was beslis nie voorbereid op dit wat hulle Saterdagmiddag sou tref nie. Dit was vir elke toeskouer op Loftus Versfeld duidelik hoekom hierdie manne die verdedigende kampioene is. Hierdie span uit Hamilton wéét hoe om met die bal in die hand aan te val en dis eintlik iets besonders om hulle op hul heel gevaarlikste in aksie te sien. Die vernuf wat hulle gewys het om só gemaklik die bal rond te gooi, terwyl voor- en agterspelers mekaar perfek aanvul, word nie elke dag in moderne rugby gesien nie.
Tog het die Bulls groot gedeeltes van die wedstryd oorheers en veral die strafdrie wat kort na rustyd aan hulle toegeken is het gewys hoe effektief die Bulls die Nieu-Seelanders kan neutraliseer as hulle besit behou en hul stempel op die spel afdruk.
Die Bulls se bestuur het egter waarskynlik ’n oordeelsfout begaan met die gebruik van hul plaasvervangers. Die ou gesegde sê mos dat daar nie getorring moet word aan ‘n ding wat werk nie. Die Bulls het spel sedert rustyd totaal oorheers, maar ’n kwartier voor die eindfluitjie, het dinge begin verander. Dit kan beslis nie toevallig wees dat dit dieselfde tydperk is waarop die Bulls se bestuur hul werkesel baljagterflank van die veld gehaal het en vervang het met ’n man wat eerder as ’n baldraer bekend is nie.
Die oomblik toe Deon Stegmann die veld verlaat, was dit duidelik watter invloed hy op die spel gehad het tot op daardie stadium. Van daardie oomblik af het die Chiefs baie meer en vinniger besit by die afbreekpunte gekry en hulle het hul blitzkrieg van 19 punte in tien minute kort daarna begin.
Frans Ludeke het na die wedstryd teenoor Rekord erken dat die Chiefs se besit verbeter het toe Stegmann af is. Hy het ook erken dat dit waarskynlik raadsaam sal wees om ’n spesialis baljagter op die reserwebank te hê om Stegmann te vervang as dit nodig word, juis oor die waardevolle rol wat só ’n spesialis in die wedstrydplan van die Bulls te speel het.
Ludeke-hulle se gelyktydige vervanging van die hele voorry het ook geboemerang, aangesien dit bygedra het tot die Chiefs se skielike momentum in daardie laaste kwartier.
Die Bulls sal boonop drasties hul verdediging moet opknap, maar hiermee gaan hul vermoë om by die afbreekpunte te kompeteer as deel van die verdedigingspatroon natuurlik ook gepaard.
Op die keper beskou kan die afgelope naweek se gelykopuitslag vir die Bulls in die volgende vier maande voordele en nadele inhou. Die twee ligapunte wat hulle verloor het plaas hulle nou sewe punte agter die Sharks, wat die voorloper in die Suid-Afrikaanse groep is. Om die manne van Durban in te haal, sal die Bulls moet hoop hulle verloor ’n paar keer teen ander spanne, want hulle kan self niks meer daaraan doen nie. Hulle het reeds twee keer teen die Sharks gespeel. Hulle sal ook nie kan bekostig om enige verdere tuiswedstryde te verloor nie, wat ekstra druk op hulle gaan plaas soos die toernooi vorder.
Nog ‘n negatiewe punt is die feit dat die Chiefs die Bulls se swakheid op die verdediging ontbloot het in die geval waar spanne die bal aanhou dra en daarin slaag om die Bulls uit hul strukturele gemaksone te laat speel. Byna al die spanne van Nieu-Seeland het die vermoë om op hierdie manier te speel, wat groot druk op die Bulls gaan plaas in die eerste twee weke van hul toer, wanneer hulle teen die Hurricanes en die Highlanders speel.
Die een voordeel wat die Bulls uit hierdie wedstryd kan trek het ironies genoeg ook met druk te doen. Dié span het in die verlede reeds bewys dat hulle wéét hoe om onder druk te speel en dat dit gewoonlik die beste uit hulle bring. Hul konsentrasie sal dus waarskynlik in die toekoms opgeskerp word, terwyl die belangrikheid van die behoud van balbesit deeglik in rooi deur die duur les teen die Chiefs onderstreep is.
