Tukkies verniel die opposisie in Varsity Sport atletiekreeks
Tukkies het Maandagaand op hul tuisbaan in Pretoria hul oorheersing van atletiek op universiteitsvlak bevestig, toe hulle die laaste byeenkoms in die reeks van vier oorheers het om as algehele wenners van dié reeks gekroon te word. Dit is Tukkies se tweede agtereenvolgende oorwinning, nadat hulle verlede jaar die eerste Varsity Sport-reeks ook maklik gewen …

Foto: GB Jordaan
Tukkies het Maandagaand op hul tuisbaan in Pretoria hul oorheersing van atletiek op universiteitsvlak bevestig, toe hulle die laaste byeenkoms in die reeks van vier oorheers het om as algehele wenners van dié reeks gekroon te word. Dit is Tukkies se tweede agtereenvolgende oorwinning, nadat hulle verlede jaar die eerste Varsity Sport-reeks ook maklik gewen het. Dit was veral die vroue-baanatlete van Tukkies wat amok gemaak het op hul tuisbaan. Net een baanitem vir vroue op die aand se program is nié deur ‘n atleet van Tukkies gewen nie. Dit was die 100m, waar Melissa Hewitt van Port Elizabeth (Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit) die oorwinning behaal het. In die 400m-hekkies het Annerie Ebersohn die aand op ‘n hoë noot vir Tukkies begin toe sy ’n puik tyd van 57:00 onder die teenstanders uitgehardloop het. Nog ’n hoogtepunt was Stella Marais se vertoning in die 3000m vir vroue, waar sy takties briljant gehardloop het om die eerste plek te behaal en die punte vir haar span in te samel. Haar tyd was 9:54,11. Groot afwagting het ook geheers voor die begin van die 200m vir mans, waar daar verwag is dat Tukkies se Akani Simbini ‘n poging gaan aanwend om die nasionale rekord in dié item te verbeter. Simbini het uiteindelik die item maklik gewen, maar kon met ‘n tyd van 20,70 sekondes ongelukkig nie naby Morné Nagel se 12-jaar oue nasionale rekord van 20.11 sekondes kom nie. Tukkies se twee aflosspanne in die 4x100m-aflosse het ook hul dominansie op die baan onderstreep deur beide hierdie items gemaklik te wen.
