Op 18 April 1938 het die nuutgestigte Noord-Transvaal Rugby-unie sy heel eerste wedstryd teen Transvaal, die unie waarvan hy afgestig het, gespeel. In daardie wedstryd het heelwat bekende spelers vir die eerste keer vir Noord-Transvaal uitgedraf.
Die kaptein was die 30-jarige agsteman, Ferdi Bergh, wat in daardie stadium reeds 14 toetse vir Suid-Afrika agter die blad gehad het. Nog bekende spelers was Lukas Strachan, Roger Sheriff, Ben du Toit, Tallie Broodryk, Nic Bierman en, les bes, die skrumskakel Danie Craven.
Craven was toe ‘n 27-jarige soldaat, in Pretoria gestasioneer en het in 1938 drie wedstryde vir die nuwe Noord-Transvaalse Rugby-unie uitgedraf.
Die jong Lourens Smit, wat ook in die span gespeel het, is verlede week oorlede en was die langslewende lid van daardie eerste Noord-Transvaal span. Hy was 101 jaar oud en sou oor drie weke, op 31 Desember, 102 geword het. Met sy afsterwe is die spreekwoordelike naelstring van die oorspronklike Bloubulspan nou vir ewig geknip. Die verbintenis wat bevoorregte ondersteuners nog met daardie era gehad het, is nou vir ewig verby.
Oom Lourens Smit het sy laaste jare op Middelburg in Mpumalanga deurgebring. Hy het tot diep in sy negentigs nog in sy eie huis gewoon, maar met gesondheid wat versleg het, is hy na ‘n versorgingsoord verskuif.
Hy het sy hoë ouderdom toegeskryf aan harde werk in sy jare as plaasboer en die feit dat hy altyd gesond geleef het. Hy het nooit gerook of oormatig gedrink nie.
Smit het vertel dat hy, soos baie van sy spanmaats in 1938, vroeër eers vier jaar lank vir Transvaal uitgedraf het, hoewel hy van die begin af vir die Harlekyne-klub in Pretoria gespeel het. Hy het gewissel tussen die posisie van flank en stut. In daardie eerste wedstryd was hy een van Noord-Transvaal se stutte.
Een van Smit se grootste teleurstellings was dat hy nooit Springbok geword het nie. Hy het vertel dat hy tweemaal sy Springbokkleure misgeloop het. Die eerste keer is hy per trein na Zambië om na ‘n plaas daar te gaan kyk en boerdery-moontlikhede te ondersoek. Die Springbokkeurders kon hom dus nie opspoor nie, hoewel hy blykbaar ‘n gunsteling was om in daardie stadium die Bokspan te haal.
Die tweede keer is hy wel in kennis gestel dat hy die Springbokspan sou haal, maar ongelukkig het hy kort voor die kies van die span Malaria opgedoen en was hy weens die siekte onbeskikbaar. Hy het uiteindelik tussen 1938 en 1942 in 10 wedstryde vir Noord-Transvaal uitgedraf.
Smit het in die Noord-Kaap grootgeword en op Hopetown skoolgegaan. Hy het op 13-jarige ouderdom begin rugby speel. Na skool het hy as arbeider by die spoorwegpolisie aangesluit. Daar het hy op 17 vir Lichtenburg se dorpspan begin speel.
Later het hy ‘n handelsreisiger geword. Na sy rugbydae in Pretoria het Smit vir hom ‘n plaas in die Dullstroom-distrik van die destydse Oos-Transvaal gekoop, waar hy lank suksesvol geboer het. Hy was ‘n skaap- en beesboer.
Nadat hy begin boer het, het oom Lourens steeds rugby gespeel. Hy het in dié tyd eers vir Machadodorp en later vir Belfast gespeel. Eers op 38-jarige ouderdom het hy in 1950 finaal sy rugbystewels opgehang.
Vir gratis gemeenskapsnuus besoek Rekord se webwerwe:
“Like” ons Facebook-blad en volg ons op Twitter.
