Meer as 10000 mense verwag by skole-derby
Top atletiek, skolerugby, krieket en die nasionale swemkampioenskappe tel onder die hoogtepunte waarna Pretorianers hierdie naweek kan uitsien.

Atletiek
Die groot sportgebeurtenis in Pretoria hierdie naweek is die Senior Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe, wat reeds Vrydagoggend in die ABSA Tuks stadion by die Universiteit van Pretoria se LC de Villiers Sportgronde aangebied word. Dit word Saterdag voortgesit en top atletiek word verwag.
Rugby
Met die Bulls wat reeds Vrydagoggend in Dunedin in Nieu-Seeland teen die Highlanders gespeel (en verloor) het, is daar nie veel senior rugby in Pretoria om na uit te sien nie. Die meeste klubs het hierdie naweek ‘n ruskans en daarom is skolerugby die groot trekpleister in Pretoria.
* Die Blou Bulle se Vodacombekerspan speel Vrydagaand (11 April) om 17:30 teen die Griffons in Welkom en hulle sal hoop vir ‘n goeie oorwinning om hul posisie op die punteleer te verbeter.
* Skolesport lok deesdae groot belangstelling en dit kan nie sommer groter word as ‘n rugbyfees tussen die spanne van Afrikaans Hoër seunsskool (Affies) en Hoërskool Waterkloof nie. Sedert dié twee skole hul tradisionele jaarlikse derby in 2012 hervat het, het daar elke keer meer as 10000 mense opgeruk om dié wedstryde te sien. Vanjaar se wedstryde word op Waterkloof se velde beslis en die eerstespanne sal om 13:30 afskop.
* Ander rugby wat die naweek plaasvind is die Superrugby derby op Ellispark, waar die Lions en die Sharks mekaar Saterdagaand om 19:00 sal pak. Net voor dié wedstryd speel die Cheetahs in Bloemfontein teen die Crusaders om 17:00.
Krieket
* Die amptelike krieketseisoen is verby, maar die Northerns Krieket-Unie bied sedert Donderdag ‘n baie interessante T20 toernooi op SuperSport Park in Centurion aan. Die toernooi sal bekendstaan as die Northern Bash. Met die hulp van borge is vier spanne saamgestel waarin die Titans se spelers gelykop verdeel is. Hulle speel dan in hierdie spanne saam met die unie se top klubspelers, terwyl enkele skolespelers ook in aksie sal wees. Die toernooi se uitdun rondtes het Donderdag begin en duur elke dag voort tot Saterdag. Spel begin daagliks 10:00. Sondag sal die finale plaasvind waarin die kampioenspan gekroon sal word.
Swem
Die Suid-Afrikaanse swemkampioenskappe is reeds sedert Maandag in Durban aan die gang en top swemmers van Pretoria soos Roland Schoeman, Cameron van der Burgh en Karin Prinsloo is almal daar in aksie. Die kampioenskappe duur tot Saterdag 12 April, wanneer die meeste finale afgehandel sal word.
