Local sportSport

Bulls se lot steeds in hul eie hande na wen

Die Bulls se tuisoorwinnings die afgelope twee weke, asook 'n ontleding van hul oorblywende bepalings en die opwaarste kurwe van sleutelspelers se spelpeil, dra alles by tot 'n nuwe positiewe gees by ondersteuners oor die moontlikheid dat dié span tog vanjaar die uitspeelrondtes kan haal en 'n kans kan kry om 'n aanslag op die SupeRugby-trofee te maak.

“Vanaand het dit vir my gevoel ek speel weer in ’n Bulls span soos van ouds. Die manier waarop ons ná daardie moeilike eerste twintig minute die lewe stadig maar seker uit die Stormers gepers het, het tot hierdie gevoel bygedra.”

Hierdie woorde van Victor Matfield kort nadat hy die Bulls Saterdag op Loftus Versfeld gehelp het om die Stormers met 28-12 te klop behoort aan Bulls-ondersteuners baie hoop te gee vir die res van die SupeRugby-seisoen.

Hoewel die Bulls met hierdie oorwinning slegs tot die negende plek op die puntelys gevorder het, is daar nog ses rondtes oor in vanjaar se toernooi en baie kan nog gebeur voor die finale top ses spanne vir die uitspeelrondtes bepaal word. Daar is geen twyfel dat die Bulls se lot nog in hul eie hande is nie. Hoewel hulle net vier wedstryde oor het, behoort die Bulls beslis onder die top ses spanne te eindig as hulle daarin slaag om die Brumbies (23 Mei), Lions (31 Mei), Stormers (5 Julie) en Rebels (11 Julie) te klop.

Die taak van die Bulls is beslis ook makliker as die pad wat vir die meeste spanne bo hulle op die puntelys voorlê. Veral twee van die Nieu-Seelandse spanne, die Hurricanes en die Highlanders, wat albei tans net twee ligapunte meer as die Bulls het, se bepalings tot 11 Julie is moeilik. Hulle moet nog teen mekaar speel, terwyl die Highlanders nog twee keer teen die Crusaders en een keer teen die Chiefs moet speel. Vir die Hurricanes is dit net andersom, met twee wedstryde teen die Chiefs en een teen die Crusaders wat voorlê. Die kans is dus goed dat dié twee spanne nog ten minste tussen drie en vier keer kan verloor.

Die Western Force, wat tans baie goed vaar, het ook nog ‘n moeilike pad vorentoe en hulle gaan sukkel om aan te hou wen teen spanne soos die Crusaders, Blues en Brumbies.

Selfs die Sharks, wat tans glad nie goeie rugby speel nie, is ook nie buite die Bulls se bereik nie. Die Sharks is tans nog agt punte voor die Bulls, maar hulle gaan waarskynlik sukkel in hul laaste twee wedstryde op toer teen die Crusaders en die Blues. Twee nederlae sal enorme druk op Jake White se span plaas wanneer hulle terugkeer huis toe vir wedstryde teen die Stormers (twee keer), en die Cheetahs in Bloemfontein.

Matfield se woorde ná Saterdag se oorwinning teen die Stormers kry nuwe betekenis as die Bulls se vertonings oor die afgelope weke ontleed word. Hulle speel weekliks beter en maak al hoe minder ongedwonge foute, wat daarop dui dat die span se kurwe opwaarts neig en dat hulle besig is om al hoe beter as ’n span saam te speel.

Hierdie waarneming word ook ondersteun deur die vertonings van verskeie individue wat almal besig is om hul topvorm te herwin. Francois Hougaard is waarskynlik ’n wedstryd of twee weg van die briljante rugbyspeler wat hy voor sy beseringsprobleme van die afgelope twee seisoene was. Handré Pollard groei ook weekliks in statuur en hy kan binnekort selfs ’n groter faktor as Morné Steyn weesaangesien hy baie meer aan die span bied en beslis een van die talentvolste jong losskakels in wêreldrugby is.

In die enjinkamer het die vertoning van veral drie spelers waarskynlik ’n rol gespeel in die feit dat Matfield weer die gevoel van die “Bulle van ouds” op die veld kon kry, want stadig maar seker is die Bulls se vaste vyf weer besig om ’n eenheid te word wat ander spanne kan oorheers. Die Bulls se twee stutte, Dean Greyling en Marcel van der Merwe, speel albei op die oomblik puik rugby, terwyl Paul Willemse moeilik uit die beginspan gelaat kan word op huidige vorm. Dit beteken dat Frans Ludeke waarskynlik vir Matfield sy beloofde ruskans kan gee aangesien Flip van der Merwe ook as nommer vyf slot diens kan doen. Die invloed van ’n kombinasie van Willemse en Van der Merwe in die vaste los kan net goed wees vir die Bulls se kanse om vier oorwinnings in ’n ry te verseker.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button