Sporthoogtepunte vir 24-25 Mei 2014
Die Bulls is terug op Loftus Versfeld hierdie naweek, maar dié aksie is reeds Vrydagaand afgehandel weens die inhuldiging van die president wat op Saterdag 24 Mei in Pretoria plaasvind. Daar is egter volop skolerugby-aksie, terwyl sportliefhebbers wat liewer die naweek tuis wil bly ook kan uitsien na top vermaak op die kassie. Rugby: Die …

Die Bulls is terug op Loftus Versfeld hierdie naweek, maar dié aksie is reeds Vrydagaand afgehandel weens die inhuldiging van die president wat op Saterdag 24 Mei in Pretoria plaasvind. Daar is egter volop skolerugby-aksie, terwyl sportliefhebbers wat liewer die naweek tuis wil bly ook kan uitsien na top vermaak op die kassie.
Rugby:
Die Beeldtrofee skolereeks is nou in volle swang en ’n paar baie interessante derbies vind hierdie naweek plaas.
– Die Hoërskool Garsfontein, wat verlede week vriend en vyand verras het deur Waterkloof ordentlik te klop, speel op hul tuisveld teen nóg ’n buurman. Hierdie keer sal hulle met Menlopark kragte meet.
– Die Afrikaans Hoër Seunsskkool het vanjaar verras deur aan te kondig dat hulle weer aan die Beeldtrofee toernooi gaan deelneem. Hulle kon dus hierdie naweek op hul tuisveld teen die Hoërskool Centurion te staan.
– Waterkloof sal verseker so gou moontlik weer op die wenpad wil kom en daarom sal hulle alles uithaal in hul wedstryd teen Helpmekaar Kollege, wat op Waterkloof se veld beslis word.
– Pretoria Boys High speel vir die tweede week na mekaar teen ’n seunskool uit Johannesburg, wanneer hulle die seuns van Parktown Boys High op hul tuisveld in Pretoria aanvat.
– Die HTS John Vorster speel ook teen ’n seunskool van Johannesburg. Hulle reis na Jeppe Boys High en laasgenoemde sal seker graag twee weke na mekaar met ’n skool uit Pretoria wil afreken, nadat hulle verlede week teen Pretoria Boys High gewen het.
– Die Hoërskool Wonderboom speel op hul tuisveld teen die Hoërskool Rustenburg.
– Montana reis na Thabazimbi om daar met die Hoërskool Frikkie Meyer kragte te meet.
* Die gesogte Carltonbekerreeks vir klubspanne in Pretoria bereik hierdie week die derde rondte wedstryde. Terwyl Polisie en Centurion reeds op Vrydagaand in ’n voorwedstryd vir die Superrugby wedstryd tussen die Bulls en die Brumbies gespeel het, sal twee taai wedstryde Saterdag afgehandel word. Die wedstryd tussen Naka Bulle en TUT behoort baie harde rugby op te lewer, terwyl Tukkies op hul tuisveld teen Oostelikes te staan kom. Harlequins het ’n loslootjie.
* In die SupeRugby toernooi vind daar Saterdag nog twee wedstryde plaas waarin drie Suid-Afrikaanse spanne betrokke sal wees. Saterdagoggend om 11:40 draf die Lions in Perth die Western Force. Om 17:00 Saterdagmiddag is daar nog ’n klipharde Suid-Afrikaanse derby aan die beurt, wanneer die Stormers en die Cheetahs mekaar op Nuweland in Kaapstad pak.
Krieket
Die Indiese Premierliga kriekettoernooi (IPL) van 2014 nader nou vinnig sy einde met die laaste ligawedstryde wat hierdie naweek gespeel word. Saterdag kom van Albie Morkel en AB de Villiers se Royal Challengers Bangalore te staan teen Faf du Plessis se Chennai Super Kings. In die tweede wedstryd wat Saterdag plaasvind speel die Kolkata Knight Riders, wat oor geen plaaslike spelers se dienste beskik nie teen die Sunrisers Hyderabad met Dale Steyn in hul geledere.
Sondag is dit die beurt van die Kings XI Punjab met David Miller en Beuran Hendricks in hul geledere teen die Delhi Daredevils, waar JP Duminy, Quinton de Kock en Wayne Parnell deel van die groep is. Die laaste wedstryd van die naweek vind plaas tussen Marchant de Lange se Mumbai Indians en die Rajsthan Royals, nóg ’n span sonder enige Suid-Afrikaners in hul geledere.
Padwedlope:
Op Saterdagoggend 24 Mei om 06:45 spring atlete weg in Love Running se The Love Run by die Hatfield Christian Church in Louis Botha/January Masilela rylaan 551. Hulle bied ’n 21km halfmarathon, ’n 10km wedloop en ’n 5km pretdraf aan vir hardlopers én stappers.
Netbal:
Die nuwe plaaslike professionele netbalreeks wat as die Brutal Fruit Netball Cup bekendstaan gaan hierdie naweek voort in die Rembrandtsaal op die sportkampus van Tukkies. Dié reeks het reeds verlede naweek afgeskop, maar daar sal nog elke naweek tot by die finaal op 8 Junie aksie wees. Twaalf professionele spanne vorm deel van die nuwe reeks en die plaaslike span staan bekend as die Jaguars. Dié span bestaan hoofsaaklik uit spelers van Gauteng-Noord. Die Jaguars sal Saterdag om 12:15 en weer later die aand om 19:00 in aksie wees.
