
Met die groot sokker in Brasilië wat uiteindelik ten einde geloop het, verskuif die wêreld se aandag hierdie naweek na die Britse Ope gholftoernooi, wat sedert Donderdag in Liverpool in Engeland gespeel word. Dit is die oudste van die vier Grand Slam-toernooie en waarskynlik die mees prestigeryke gholftoernooi ter wêreld en Suid-Afrika kan met trots spog dat vier Suid-Afrikaners reeds dié toernooi gewen het: Bobby Lock (1949, 1950, 1952 en 1957), Gary Player (1959, 1968 en 1974), Ernie Els (2002 en 2012) en Louis Oosthuizen (2010).
Na die eerste twee rondtes van vanjaar se toernooi is daar drie Suid-Afrikaners onder die top 10 en die goeie nuus vir Pretorianers is dat die jong George Coetzee die laaste twee dae ingegaan het as die top Suid-Afrikaner. Dié oud Affie het die eerste twee rondtes op vyf minder as die baansyfer afgesluit en plaaslik sal sy ondersteuners styf duime vashou dat dié opkomende ster dalk hierdie jaar sy groot deurbraak sal maak. Daar is geen beter plek om jouself op die groot verhoog aan te kondig as by die Britse Ope nie.
Rugby
Die Cravenweek vir o.18 spanne loop op Saterdag 19 Julie in Middelburg ten einde. Ongelukkig kon die Blou Bulle weer nie vanjaar algehele sukses behaal nie, nadat hulle reeds op dag een teen die OP verloor het.
In hul tweede wedstryd het die jong Bulletjies met hul bure, die Goue Leeus, afgereken, maar hulle sal op die laaste dag tevrede moet wees om in een van die voorwedstryde te speel vir twee Kaapse spanne, die OP en SWD.
Hierdie naweek word die gesogte Carltonbekerreeks vir klubspanne in Pretoria voortgesit en onder die top vier speel slegs Polisie en Oostelikes hierdie naweek teen mekaar. Dit is ’n besonder belangrike wedstryd, aangesien Polisie met ‘n oorwinning reeds hul plek in die finaal kan bespreek. Oostelikes is in ‘n oorlewingstryd, want hulle sal met beide Polisie en Tukkies moet afreken om hul kanse lewend te hou om in die finaal te speel.
Die SupeRugby toernooi is uiteindelik in die uitspeelfase en of ‘n mens nou van hulle hou of nie, Suid-Afrikaners het eintlik nie ‘n keuse as om die Sharks hierdie naweek te ondersteun nie. Die manne van Durban is die enigste plaaslike span wat die uitspeelrondtes gehaal het en hulle speel teen Saterdagmiddag om 17:00 in Durban in een van die kwarteindstryde. In die ander kwarteindstryd speel die Brumbies van Australië Saterdagoggend om 11:40 (SA tyd) in Canberra teen die verdedigende kampioene, die Chiefs.
Padwedlope
Die Wingate Road Runners klub organiseer in samewerking met die NG Kerk van Garsfontein Saterdagoggend die Mooikloof Realtors Winter Road Race.
Die wedloop begin om 07:00 en die begin en einde is by die Garsfontein Laerskool in Zitastraat, Garsfontein. Die wedloop is oor 10km, terwyl die tradisionele 5km pretloop ook ’n opsie is vir die minder fikse deelnemers.
Krieket
Nadat Suid-Afrika se Proteas vir Sri Lanka verlede week op hul eie bodem pakslae gegee het in die reeks van drie eendagtoetse, is die eerste volwaardige toets tans aan die gang in Colombo.
Nadat Suid-Afrika 455 aangeteken het in hul eerste beurt, het Dale Steyn op die tuisspan toegesak met sy boulaanvalle en ná Steyn se vyf paaltjies vir 50 lopies is Sri Lanka in die moeilikheid op 283/9 aan die einde van dag drie. Dié wedstryd word ook op Saterdag 19 Julie voortgesit.
Die Statebondspele
Intussen begin nog een van die jaar se groot sportgeleenthede eerskomende Woensdag, wanneer die Statebondspele van 2014 in Glasgow, Skotland, gaan afskop. Suid-Afrika se span van 187 lede het reeds na Skotland vertrek en volgens ingeligtes word meer as 40 medaljes vanjaar van dié span verwag. Een van die groepe wat goud kan inpalm is die Suid-Afrikaanse sewes rugbyspan
