Local sportSport

Sporthoogtepunte vir 26-27 Julie 2014

Hiermee volg die sporthoogtepunte vir die naweek.

Die Statebondspele is nou in volle swang, nadat dit die afgelope week swierig in Skotland afgeskop het. Suid-Afrika word daar verteenwoordig deur ‘n stewige span van 187 lede. Na ‘n rukkerige begin lyk dit of Suid-Afrika harde werk het wat voorlê as hulle nog by die mikpunt van meer as 40 medaljes en ‘n vyfde plek op die medaljetabel wil uitkom.

Aan die einde van die tweede dag was Suid-Afrika maar in die 12de plek op die medaljetabel met slegs twee bronsmedaljes. Op hierdie stadium is daar egter nog geen rede tot paniek nie, aangesien sportsoorte waarin Suid-Afrika sal presteer, soos swem, netbal, sewes-rugby en atletiek eers later aan die beurt kom.

Rugby

Met al die jeugweke nou afgehandel en die skole wat na ‘n lekker lang vakansie weer begin het, kan skolerugby liefhebbers uitsien na die laaste fase van die Beeldtrofee reeks wat hierdie naweek voortgesit word. Verskeie skole in Pretoria is betrokke op verskillende vlakke en skole wat veral dopgehou kan word is Garsfontein, Waterkloof, Centurion en Oos-Moot.

Hierdie naweek is daar ook weer aksie in die gesogte Carltonbekerreeks vir klubspanne in Pretoria. Weens ernstige beserings in die voorry was Oostelikes verplig om te onttrek aan hul wedstryd teen Tukkies, maar Polisie sal steeds na TUT se velde reis om hulle daar te ontmoet. Dié wedstryd is egter van akademiese belang, aangesien Polisie en Tukkies reeds as die kandidate vir die eindstryd oor twee weke aangewys is.

Die SupeRugby toernooi is nou ook in sy tweedelaaste fase en Suid-Afrikaners sal hierdie naweek weer verenig agter die Sharks wees wanneer hulle Saterdagoggend om 09:30 teen die Crusaders in Christchurch uitdraf. In Sydney kom die Waratahs om 11:30 teen die Brumbies te staan om die ander kandidaat vir die eindstryd te bepaal.

Padwedlope

Die Swartkop padwedloop word Saterdagoggend by die Swartkop Lapa in die weste van Centurion aangebied. Die verrigtinge begin 07:00 en sluit ‘n 10km wedloop en ‘n 21km halfmarathon in. Dit word aangebied der Alpha Centurion.

Krieket

Suid-Afrika het die toetsreeks teen SriLanka met puik krieket afgeskop. Met Pretorianers soos AB de Villiers en Faf du Plessis aan die voorpunt het hulle die eerste toets maklik met 153 lopies gewen. Intussen het die tweede toets Donderdag begin en Suid-Afrika sal moet uithaal om die tuisspan se puik eerste beurt van 421 te neutraliseer. Suid-Afrika sal Saterdagoggend op dag drie voortkolf op 98/3, nadat Alviro Petersen en Dean Elgar vroeg hul paaltjies verloor het. Gelukkig lyk dit of kaptein, Hasim Amla, besig is om vas te byt saam met AB de Villiers en Amla was kort voor uitskeityd op die punt om sy soveelste vyftigtal te kry.

Suid-Afrika sal waarskynlik probeer veilig speel vir ‘n onbesliste uitslag om uiteindelik die toetsreeks met 1-0 te wen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button