Local sportSport

Reënweer pootjie Bokke teen Argentinië

Daar lê nog harde werk voor vir die Springbokke.

Hoewel die Springbokke Saterdagaand hul eerste toets in vanjaar se Rugby Kampioenskapstoernooi teen Argentinië met 13-6 gewen het, lê daar nog harde werk voor vir Jean de Villiers en sy spanmaats as hulle vanjaar dié toernooi wil wen.

Op die middag se spel beoordeel was daar egter een groot faktor wat waarskynlik albei spane se wedstrydplanne verongeluk het. Pretoria se mense is Saterdagoggend deur koel bewolkte weer begroet toe hulle opstaan. Maar die reën het weggebly en 35 000 mense het steeds opgeruk na Loftus Versfeld vir die toets.

Soos die nootlot dit wou hê, begin die reën toe uitsak enkele minute voor die afskop op Loftus. Vir die res van die eerste helfte het dit aanhou reën, met ’n sarsie hael wat selfs ook tussenin geval het. Hierdie ingryping van die natuur het veroorsaak dat die veld én die bal seepglad geword het op Loftus Versfeld. Dit het weer die verwagte sprankel-rugby byna onmoontlik gemaak.

Die speeltoestande was ’n reuse teleurstelling en terugslag vir die Bokke, aangesien hulle bitter graag hierdie toernooi in hul eerste tuiswedstryd met volpunte op die punteleer sou wou begin. Daarvoor sou hulle egter vier drieë in die wedstryd moes druk en dít is byna onmoontlik gemaak deur die nat toestande, wat die Poemas se speelstyl beter gepas het.

Hoewel die reën opgehou val het in die tweede helfte, was die veld en bal steeds nat en dit het steeds slordige spel verseker. Die Springbokke kon ook nooit voorlangs ordentlik oorheers nie. Inteendeel, die Suid-Amerikaners het sterker as hulle geëindig en teen die einde moes die Springbokke keer so wat hulle kon om dié manne van die doellyn weg te hou.

Die Springbokke is nou met hul rug teen die muur wat die Rugby Kampioenskapstoernooi betref. Hulle sal waarskynlik nou moet probeer om al hul weg wedstryde te wen.

Aan die ander kant is hierdie span van Argentinië glad nie meer die melkkoei van die toernooi nie. Hulle is ‘n baie goed gebalanseerde span wat beslis die All Blacks en die Wallabies ook harde bene gaan laat kou as hulle voorspelers op vandag se vertoning kan voortbou.

Uitblinkers aan Springbokkant was daar nie veel nie. Inteendeel, ’n paar van die senior spelers sal dringend hul sokkies moet optrek. Willie le Roux was egter weer vol energie en sy spel onder die hoë bal was foutloos in die nat weer. Ruan Pienaar het sy beste toets in ‘n lang tyd in die Springbok trui gehad. Voorlangs het Lood de Jager en Francois Louw vir die Springbokke uitgestaan.

Puntemakers:

SPRINGBOKKE: 13. Drieë: Ruan Pienaar. Doelskoppe: Handré Pollard. Strafdoele: Handré Pollard (1), Morné Steyn (1)

ARGENTINIë: 6. Strafdoele: Nicolas Sánchez (2)

Suid-Afrika: 15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Damian de Allende, 12 Jean de Villiers (k), 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Willem Alberts, 6 Francois Louw, 5 Lodewyk de Jager, 4 Bakkies Botha, 3 Jannie du Plessis, 2 Bismarck du Plessis, 1 Tendai Mtawarira.

Reserwes: 16 Adriaan Strauss, 17 Trevor Nyakane, 18 Frans Malherbe, 19 Eben Etzebeth, 20 Marcell Coetzee, 21 Francois Hougaard, 22 Morné Steyn, 23 Jan Serfontein.

Argentinië: 15 Joaquín Tuculet, 14 Horacio Agulla, 13 Marcelo Bosch, 12 Juan Martín Hernández, 11 Manuel Montero, 10 Nicolás Sánchez, 9 Martín Landajo, 8 Juan Manuel Leguizamón, 7 Juan Martín Fernández Lobbe, 6 Pablo Matera, 5 Tomás Lavanini, 4 Mariano Galarza, 3 Ramiro Herrera, 2 Agustín Creevy (k), 1 Marcos Ayerza.

Reserwes: 16 Matías Cortese, 17 Lucas Noguera Paz, 18 Nahuel Tetaz Chaparro, 19 Matías Alemanno, 20 Leonardo Senatore, 21 Tomás Cubelli, 22 Santiago González Iglesias, 23 Lucas González Amorosino.

Beamptes

Skeidsregter: John Lacey (Ierland)
Assistente: Steve Walsh (Australië), Marius Mitrea (Italë)
TV: Simon McDowell (Ierland)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button