Local sportSport

Sport hoogtepunte, 23-24 Augustus 2014

Rugby, krieket, atletiek en padwedlope. Al jou hoogtepunte, net hier.

Verlede naweek se ingryping deur die natuur, toe die toets tussen Suid-Afrika en Argentinië in ‘n stortbad op die rugbyveld ontaard het, het veroorsaak dat die Bokke hierdie naweek ekstra druk sal ervaar met die herontmoeting in Salta, Argentinië. Intussen is die komende naweek ook propvol ander aksie wat sportliefhebbers na die sportvelde sal laat stroom of voor die kassie vasgenael sal hou.

Rugby

Skole: Na ’n lang seisoen vir skolerugbyspelers is Garsfontein die enigste skool wat uiteindelik ’n eerstespan in een van die Beeldtrofee toernooi se finale kon kry. Garsfontein kan geskiedenis maak as hulle Saterdagoggend vir Nelspruit op hul tuisveld in die Laeveld in die finaal vir Makro Skole kan klop, want dit is die eerste keer in die Pretorianers se geskiedenis dat hulle kwalifiseer vir so ‘n groot finaal.

Curriebeker: Na twee liederlike loesings is die Blou Bulle onder reuse druk in die Curriebekerreeks. Hulle benodig baie dringend ’n goeie oorwinning om hul ondersteuners te laat kalmeer. Die Bulle speel Saterdag reeds om 15:00 op Loftus Versfeld teen die OP Kings. Die Kings sukkel self om aan te pas in dié liga, nadat hulle weens politieke redes bevorder is om saam met die top spanne te speel. Dit sal in die Bulle se guns tel en hulle het ‘n goeie kans om asem te skep met ‘n deeglike oorwinning.

Die Blou Bulle se juniors (o.19 en o.21) speel in die voorwedstryde teen die Luiperds, wat reeds om 11:00 begin.

Toetsrugby: Saterdag gaan ‘n lang dag word vir rugbyliefhebbers, want die Bokke se toets teen Argentinië skop eers om 21:00 (SA Tyd) af. Intussen speel die All Blacks en Australië ook teen mekaar in Auckland. Dié wedstryd vind om 09:30 (SA tyd) plaas.

Padwedlope

Langasems in Pretoria het oudergewoonte hierdie naweek weer ’n padwedloop vir diegene wat daarvan hou om op ‘n Saterdagoggend teen dagbreek al die tekkies op die teer te laat klap.

In die suide is daar die Wierie Road Race met die keuse van ‘n halfmarathon van 21km, ‘n 10km wedloop, ‘n 5km pretdraf en ‘n 2km roete vir die wat net die bloed ‘n bietjie vinniger wil laat pomp of die kinders wil laat deelneem. Wegspringtyd is 06:00.

Krieket

Suid-Afrika se nasionale krieketspan, die Proteas, is nog op hul kort toer in Zimbabwe.

Volgende week sluit Australië by hulle aan vir ‘n kort driehoekige reeks, waarvan die eerste wedstryd tussen Suid-Afrika en Australië op Woensdag 27 Augustus plaasvind. Die wedstryd word in Harare gespeel.

Atletiek

Die Jeug Olimpiese Spele in Nanjing, China is steeds aan die gang. Die Suid-Afrikaanse span bestaan uit 63 sportmanne en –vroue en die aksie sal nog tot eerskomende Donderdag (28 Augustus) duur.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button