Local sportSport

Plaaslike rolbaalpaar word sterre by Statebondspele

Voor vanjaar se Statebondspele was Herman Scholtz net ’n gewone staatsamptenaar wat ook besonder goed rolbal kon speel en toevallig swaksiende is. Toe hy egter die heel eerste Suid-Afrikaner word om ’n goue medalje by die Statebondspele te wen, het Scholtz skielik aandag getrek. “Dit was nogal vreemd. Ek was maar net nog een van …

Voor vanjaar se Statebondspele was Herman Scholtz net ’n gewone staatsamptenaar wat ook besonder goed rolbal kon speel en toevallig swaksiende is. Toe hy egter die heel eerste Suid-Afrikaner word om ’n goue medalje by die Statebondspele te wen, het Scholtz skielik aandag getrek. “Dit was nogal vreemd. Ek was maar net nog een van die ouens in die span en niemand by die huis het werklik geweet wie ek is nie. Toe wen ek en Gwen Nel die eerste goue medaljes vir Suid-Afrika en skielik is dit net joernaliste en TV-kameras en ons word behandel soos beroemdes,” het Scholtz aan Rekord vertel. Hy en Nel en hul helpers het met hul twee Skotse teenstanders afgereken het in die B2/B3-kompetisie vir sig-gestremdes. Daarmee het hulle die eerste Suid-Afrikaners geword om by dié spele goue medaljes te ontvang. Eintlik moes Scholtz lankal ‘n bekende in Suid-Afrika gewees het, maar omdat rolbal nie die sosiale profiel het wat dit verdien nie, het net die rolbalgemeenskap voor die Statebond Spele van dié merkwaardige sportman geweet. Scholtz het in 1987 begin rolbal speel, maar dit was eers sowat tien jaar later dat hy werklik sy merk begin maak het. Sedert 1998 het hy al 13 Suid-Afrikaanse enkelspel titels ingeryg, terwyl hy vier keer die silwer medalje by die nasionale kampioenskappe ontvang het. Hy was al vier keer ’n enkelspel wêreldkampioen en drie keer het hy dit met ’n spanmaat in die dubbelspel gedoen. Al het hy sedert geboorte net vyf persent van die normale sigvermoë is Scholtz inderdaad goed genoeg om op klubvlak teen die normale spelers te kompeteer. Scholtz is die eerste om te erken dat hy nie maklik alleen al die prestasies sou kon behaal wat hy wel reeds agter sy naam kan skryf nie. Daarvoor moet sy helper, Annatjie van Rooyen, baie krediet kry. Van Rooyen is ’n puik rolbalspeler en sportvrou in eie reg. Behalwe vir provinsiale kleure in rolbal het sy ook al haar provinsie in sagtebal en pluimbal verteenwoordig. Sy het die kuns en geduld van ’n goeie helper vir swaksiende spelers aangeleer toe sy saam met haar bekende ma, Mala van Rooyen, gespeel het. Mala was ook ’n swaksiende internasionale speler. In 2007, het Van Rooyen en Scholtz se paaie gekruis en sedertdien werk hulle saam op die baan. Scholtz sê hy kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik Van Rooyen se bydrae in sy sukses is nie. “Sy is letterlik my oë op die baan, byna soos ’n baie goeie joggie op die gholfbaan.” Dié twee goue medalje wenners is dit eens dat die verhouding tussen speler en helper besonder goed moet wees om sukses te behaal. Die helper is nie net die speler se oë nie, maar ook ’n motiveerder en strateeg. Van Rooyen, wat ook ’n vlak-drie rolbalafrigter is, vertel hoe hulle vooraf ’n soort “wedstrydplan” moes uitwerk. Hulle het gou besef die bane in Skotland is baie stadiger weens die baie vog en daarom het hulle geoefen om langer koppe te kan speel. Só het hulle suidelike halfrond spanne soos die Aussies uitoorlê. Albei erken dat geduld op die baan nodig is en dat die verhouding tussen hulle besonder goed moet wees. Hulle moet mekaar nie net as speler ken nie, maar ook as mens. Na net ’n halfuur in hul geselskap val albei se rustigheid ’n mens op en die wyse waarop hulle kommunikeer laat ’n mens glo dat dié twee nog baie medaljes saam gaan wen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button