Jong WP-slot breek sy nek op Loftus Versfeld
JD Schickerling, moes binne die eerste vier minute van sy span se wedstryd teen die Blou Bulle se o.21’s met ’n ernstige nekbesering van die veld af gaan.
Toeskouers, spelers en beamptes het Saterdagmiddag op Loftus Versfeld groot geskrik toe die jong o.21 slot van die Westelike Provinsie, JD Schickerling, binne die eerste vier minute van sy span se wedstryd teen die Blou Bulle se o.21’s met ’n ernstige nekbesering van die veld af moes gaan.
Dit het later bekend geword dat Schickerling sy nek tussen die vyfde en sesde werwel gebreek het.In wat as ’n fratsongeluk beskryf word, het Schickerling baie vroeg in die wedstryd ’n bal uit die lug gevat ná ’n afskop.
Die twee slotte van die teenstanders het hom byna gelyktydig in die verdediging getref. Irné Herbst, die Blou Bulle se een slot het Schickerling met die skouer teen die kop getref, waarna die Bulle se ander slot, Marvin Orie, hom grond toe gevat het.Volgens berigte het Schickerling gevoel iets is fout met sy nek, waarna hy bly lê het.
Spel is daarna lank vertraag toe noodhulp beamptes en die WP se spandokter Schickerling te hulp gesnel het. Hy is op die veld gestabiliseer, waarna hy per ambulans na die Little Company of Mary-hospitaal in Groenkloof vervoer is.
Schickerling is die naweek geopereer en volgens alle aanduidings was die operasie suksesvol. Hy was volgens berigte baie gelukkig dat die breuk slegs enkele millimeters weg van ernstiger skade en dus moontlike verlamming was.
Hy het na die operasie wel gevoel in sy arms en onderlyf, wat volgens dokters ’n positiewe aanduiding is dat hy volkome kan herstel. Volgens berigte is Schickerling self so positief dat hy glo hy sal weer kan rugby speel.
Hoewel die voorval op die veld as ’n fratsongeluk beskryf word, het die WP blykbaar gevra dat dit amptelik ondersoek word.Schickerling is ’n jong reus van 2.02m en hy weeg 109kg. Hoewel hy in Mei vanjaar eers 19 jaar oud geword het en dus steeds ’n o.19 speler is, het die WP hom reeds in hul o.21 span gekies.
Hy was vroeër vanjaar ook deel van die Suid-Afrikaanse o.20 span wat aan die wêreldbekertoernooi vir o.20 spanne in Nieu-Seeland deelgeneem het. Nie die hospitaalbestuurder of die hoof-matrone by Little Company of Mary-hospitaal was beskikbaar om met Rekord te praat toe navraag oor Schickerling se welstand gedoen is nie.
