Local sportSport

Blou Bulle klop hul hoogaangeskrewe bure in Curriebekerreeks

Die Blou Bulle se vlam van hoop in die huidige Curriebeker toernooi brand al hoe hoër en hul oorwinning van 36-26 oor die omgekrapte Goue Leeus Saterdagaand op Loftus Versfeld was net die regte inspuiting waarvoor hulle gewag het. Terwyl duisende ondersteuners steeds hul rug op die span draai en weier om Loftus Versfeld toe …

Die Blou Bulle se vlam van hoop in die huidige Curriebeker toernooi brand al hoe hoër en hul oorwinning van 36-26 oor die omgekrapte Goue Leeus Saterdagaand op Loftus Versfeld was net die regte inspuiting waarvoor hulle gewag het.

Terwyl duisende ondersteuners steeds hul rug op die span draai en weier om Loftus Versfeld toe te kom as die Bulle daar speel, is Frans Ludeke en sy bestuur se harde werk stadig maar seker besig om die regte vrugte voort te bring.

Op die keper beskou was Saterdagaand se vertoning ’n voortsetting van die Bulle se weeklikse verbetering op hul spelpeil en met ’n bietjie geluk kon hulle selfs ’n bonuspunt-oorwinning oor die hoogaangeskrewe Leeus behaal het.

Behalwe vir ’n glips deur Jacques-Louis Potgieter in die heel eerste minuut van die wedstryd, wat byna tot sewe punte vir die Leeus gelei het, was die Bulle tot rustyd gemaklik in beheer van die kragmeting. Gelukkig het die Leeus se flank, Jaco Kriel, die bal in die doelgebied aangeslaan in daardie vroeë voorval en die Bulle kon daarmee wegkom. Potgieter self het ook só goed van dié blaps herstel dat hy aan die einde van die wedstryd as man-van-die-wedstryd aangewys is.

Daarna het die Bulle, met hul kaptein Deon Stegmann aan die spits, die Leeus onder druk gehou in byna alle fasette van die spel. Die enigste faset waar die Bulle nog gesukkel het, was die vaste skrums, maar die Leeus is waarskynlik die beste skrummers in die kompetisie, wat dus perspektief oor dié aangeleentheid bring.

In die tweede helfte het die Bulle se volgehoue druk nie net tot hul tweede drie gelei nie, maar die Leeus is onder druk ook gedwing om foute te maak, wat later selfs aan hul vaskopstut, Ruan Dreyer, ’n geelkaart besorg het.

Die Leeus moet egter krediet kry vir die wyse waarop hulle met twee drieë binne tien minute teruggekom het in die wedstryd en drie minute voor die eindfluitjie slegs drie punte agter was.

Die Blou Bulle het hierdie keer egter kop gehou en self weer in die doodsnikke gaan druk, om die Leeus van ’n verloor-bonuspunt te ontneem.

Met hierdie belangrike oorwinning is die Blou Bulle nou amptelik terug in die Curriebeker wedloop en as hulle volgende week hul laaste wedstryd in die dubbelrondte-groepfase teen die OP Kings in Port Elizabeth kan wen, is kan daar openlik van halfeindrondte-kanse gepraat word.

 

Puntemakers:

Blou Bulle: 36. Drieë: Ulrich Beyers, Burger Odendaal, Grant Hattingh. Doelskoppe: Jacques-Louis Potgieter 3) Strafdoele: Jacques-Louis Potgieter 5. 

Goue Leeus: 26 . Drieë: Kwagga Smith, Martin Muller. Doelskoppe: Ruan Combrinck 2. Strafdoele: Ruan Combrinck 4

 

Spanne:

Blou Bulle: 15 Ulrich Beyers, 14 Sampie Mastriet, 13 JJ Engelbrecht, 12 Burger Odendaal, 11 Jamba Ulengo, 10 Jacques-Louis Potgieter, 9 Rudy Paige, 8 Jono Ross, 7 Jacques du Plessis, 6 Deon Stegmann (k), 5 Grant Hattingh, 4 Paul Willemse, 3 Werner Kruger, 2 Mbongeni Mbonambi, 1 Dean Greyling.
Bank: 16 Callie Visagie, 17 Basil Short, 18 Nicolaas Janse van Rensburg, 19 Jacques Engelbrecht, 20 Piet van Zyl, 21 Tony Jantjies, 22 Ryan Nell.

 Goue Leeus: 15 Andries Coetzee, 14 Lionel Mapoe, 13 Nicolaas Hanekom, 12 Alwyn Hollenbach, 11 Ruan Combrinck, 10 Jaco van der Walt, 9 Ross Cronje, 8 Derick Minnie, 7 Warwick Tecklenburg, 6 Jaco Kriel, 5 Franco Mostert, 4 Luvuyiso Lusaseni, 3 Ruan Dreyer, 2 Willie Wepener, 1 Schalk van der Merwe
Bank: 16 Armand van der Merwe, 17 Jacques van Rooyen, 18 Martin Muller, 19 Willie Britz, 20 Kwagga Smith, 21 Mark Richards, 22 Howard Mnisi.

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button